Hanteer vrees (1)
2021-03-15Psalm 118:6 NLV
Gedurende die Groot Depressie het werkloosheid 25 persent van die Amerikaanse bevolking getref. Spaarrekeninge is deur banke wat ineengestort het uitgewis, boere se land is teruggeneem en mense het gesukkel om hulle families te voed. Gedurende hierdie donker tye het Franklin Delano Roosevelt die nasie met die volgende woorde toegespreek: ‘Laat ek my ferme geloof uitspreek dat die enigste ding wat ons het om te vrees, vrees self is – naamlose, onredelike, ongegronde vrees wat die nodige pogings om voort te bou, verlam.’
Wat die meeste mense nie besef nie is dat die president self tye waartydens vrees hom verlam het, ervaar het. Roosevelt is as bevoorregte kind gebore en het in Europa, by Harvard en by Columbia se regskool, studeer. Op die ouderdom van nege-en-dertig het hy egter polio opgedoen wat hom erg gestrem gelaat het. Gedurende sy siekbed het hy ‘n uiterste vrees vir vuur ontwikkel. Hy was bekommerd dat hy as gevolg van sy gebrek nie in staat sou wees om te ontsnap nie. Met verloop van tyd het hy egter sy vrees oorkom, die gebruik van sy hande herwin en selfs geleer om met stutte te loop. Hy het weer die politieke arena betree – en vreesloos ‘n veldtog geloods om goewerneur van New York te word, wat hy in 1929 reggekry het. Hy het voortgegaan om een van Amerika se grootste presidente te word en het die land na oorwinning in die Tweede Wêreldoorlog gelei. In sy memoires het Roosevelt geskryf hoe hy na God vir hulp, moed en leiding gedraai het en hoe hy dit ontvang het.
Is jy vandag bang? Indien jy is, staan op hierdie belofte: ‘Die Here is by my, ek sal nie bang wees nie. Wat kan ‘n mens aan my doen?’
Sielskos: Job 8-10; Matt 23:1-12; Ps 115; Spr 8:1-3