Het jy daaroor gebid?
2021-02-202 Korintiërs 4:18 NLV
God het nie gebed moeilik of gekompliseerd gemaak nie, maar regtig eenvoudig. Die waarheid is dat baie van ons meer gereeld bid as wat ons weet. Ons het ‘n effektiewer en suksesvoller gebedslewe as wat ons besef. Die probleem is dat ons nie altyd besef wanneer ons bid nie. Dis omdat jy die verkeerde idee daaroor het. Ons is geleer dat gebed ‘n spesifieke omgewing soos die kerk nodig het, dat ons ‘n spesifieke posisie moet inneem, deur byvoorbeeld te kniel, dat ons spesifieke woorde soos ‘O Heer’ moet gebruik en dat ons streng aan sekere godsdienstige rituele moet voldoen. Nee, gebed is eenvoudig ‘n gesprek met God, waarna jy stil word en Hom toelaat om met jou te praat. Jy kan enige tyd, enige plek, oor enigiets bid, deur jou gedagtes – gesproke en ongesproke – na God toe te rig.
Paulus skryf: ‘Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare is vir altyd.’ Verbeel jou dat al God se seëninge en voordele in ‘n pakhuis in die onsigbare ryk gestoor word; dinge soos vergifnis, krag, wysheid, leiding, guns en hulpbronne. Deur gebed gaan jy God se pakhuis van seëninge binne en deur geloof ontvang jy dit en bring dit na jou lewe toe terug.
Die Bybel sê dat ons nie het nie, omdat ons nie vra nie (sien Jakobus 4:2). Wat jy dus ook al vandag benodig, bid en vra God daarvoor – met die geloof dat Hy dit vir jou sal gee. Jesus het gesê: ‘As julle aan My verbind bly en my woorde ‘n stewige vastrapplek in julle gekry het, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry’ (Johannes 15:7 NLV). So, het jy daaroor gebid?
Sielskos: Gen 10-12; Matt 16:13-28; Ps 36; Spr 5:21-23