Probeer vergoed
2021-02-06Lukas 19:8 NLV
As jy iemand bedrieg het, verwag God van jou om daarvoor te vergoed. Saggeus was ‘n bedrieër in die eerste eeu wat belasting van die Jode, sy eie mense, vir die Romeine ingesamel het. Hy het almal wat hy kon, bedrieg. Die Bybel sê dat hy ryk was (sien vers 2 NLV). Nadat hy egter ‘n aand saam het Jesus deurgebring het, het hy radikaal verander. Hoe weet ons dit? Omdat hy gesê het: ‘…Here, ek gaan die helfte van my besittings aan die armes gee, en as ek iets van iemand met ‘n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug.’ Jesus leer ons: ‘Bewys eerder deur julle voorbeeldige lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het’ (Matteus 3:8 NLV).
Soms is dit egter nie moontlik om vrede te maak met die persoon wat jy seergemaak het nie. Wat as hulle oorlede is? Wat as jy ‘n ‘affair’ met iemand anders se eggenoot gehad het? Moet jy teruggaan en hulle man of vrou daarvan vertel sodat jy minder skuldig kan voel? Nee, jy sal hulle harte breek en hulle gesin vernietig. Wat moet jy dus doen? Bid en ontvang God se vergifnis (sien 1 Johannes 1:7-9). As jy daarna steeds daarmee worstel, gaan praat daaroor met jou pastoor, of ‘n Christelike berader, of ‘n volwasse vriend wat dit kan hanteer. Jakobus skryf: ‘Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word…’ (Jakobus 5:16 NLV).
Die punt is dat jy gewillig moet wees om vrede te maak wanneer dit moontlik is en gewillig moet wees om die koste te dra om dinge reg te stel. As jy dit doen, sal God jou seën en kan jy met ‘n skoon gewete met betrekking daar toe lewe.
Sielskos: Rom 1:1-3:20; Matt 13:1-9; Ps 67; Spr 4:1-2