Ons dien ‘n vrygewige God
2021-02-042 Korintiërs 9:8 AFR83
God het nie net lief nie; Hy oorlaai ons met liefde (sien 1 Johannes 3:1). Hy deel nie net wysheid uit nie; Hy ‘…sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie’ (Jakobus 1:5 NLV). Die Verlore Seun het die vetste kalf gekry, die gaste by die troue in Kana die beste wyn en Petrus het so baie vis gevang dat sy boot begin sink het.
Paulus sê vir ons dat God ‘saad voorsien aan die saaier’ (2 Korintiërs 9:10 NLV). Die Griekse woord vir ‘voorsien’ stam van twee betekenisse af. Die eerste beteken ‘om te dans’ en die tweede beteken ‘om te lei.’ Dit beteken letterlik om “‘n dans te lei.” Wanneer God dus vir jou gee, dans Hy van vreugde. Hy is lief daarvoor om te gee! Een dag het Petrus vir Jesus gesê: ‘…Ons het alles opgegee om u dissipels te word. Wat sal ons daaruit kry?’ (Matteus 19:27 NLV). Dit lyk na ‘n goeie geleentheid vir Jesus om Petrus se ‘Wat’s in dit vir my?’ mentaliteit aan te spreek. Hy doen dit egter nie. In plaas daarvan, verseker Hy vir Petrus dat ons honderdvoudig in hierdie lewe sal ontvang en die ewige lewe ook sal verkry (sien Matteus 19:29). Jesus beloof ons ‘n wins van 10,000 persent! God deel sy goedheid nie met ‘n oogdrupper uit nie, maar met ‘n brandkraan; nie met ‘n teekoppie nie, maar met die Middellandse See. Jy kan dit eenvoudig nie bedwing nie.
Laat dit dus oorborrel. Uitloop. Oor die kant mors. ‘…En onthou, hierdie dinge het julle nie self verdien nie. Ek het dit gratis vir julle gegee. Gaan gee dit daarom ook verniet aan ander weg’ (Matteus 10:8 DB).
Sielskos: Jes 58-62; Matt 12:22-37; Ps 108; Spr 3:31-32