Leer by Moses (4)
2020-10-27Hebreërs 11:27 NLV
Vierdens moet jy volhou wanneer die lewe moeilik raak. Jy kan Moses se hele lewe in hierdie drie woorde opsom: ‘Hy het volgehou.’
Dis ‘n feit van die lewe dat daar nie vooruitgang sonder probleme kan wees nie. Moses het verstaan dat die lewe moeilikhede en probleme kan oplewer en hy het ook geweet hoe om reg op hulle te reageer en aan te beweeg. Ons moet ook leer om dit te doen.
As volgelinge van Christus, moet ons nie toelaat dat probleme ons oorwin nie, ons moet dit toelaat om ons nader aan God te beweeg. Iemand het gesê dat ons nie moet toelaat dat probleme ons afbring nie – behalwe af op ons knieë om te bid! God laat sekere situasies in ons lewens toe om groei te laat plaasvind. Sonder volhouding sal ons egter nie ver kom nie.
Let die woorde op: ‘Omdat hy geglo het… [het] hy volgehou…’ Waarin het hy geglo? In wie het hy geglo? In God! Ons praat nie hier van ‘n vleeslike vorm van self-help nie. Nee, ons praat van die feit dat wanneer God jou roep om ‘n werk te doen, Hy jou daarvoor toerus en jou bekragtig. Hy gaan jou vooruit en voorsien alles wat jy nodig het.
Wanneer jy vir sy plan in jou lewe ja sê, kan jy op hierdie belofte staan: ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV).
Jy moet dus: a) weet wie jy is; b) verantwoordelikheid vir jou lewe neem; c) jou prioriteite bepaal; en d) volhou wanneer die lewe moeilik raak. As jy volgens hierdie vier Bybelse waarhede lewe, sal jy ‘n lewe lei wat waarlik deur God geseën word.
Sielskos: 1 Tim 4-6; Joh 6:52-71; Ps 114; Spr 24:23-25