Wees versigtig na wie jy luister

2020-10-21
Spreuke 2:6 NLV

Wat sê die mense in jou lewe vir jou? Versterk hulle jou geloof of laat hulle jou aan jouself twyfel? Net omdat mense vir jou iets sê, beteken nie dat dit so is nie.

In 1492 het die mense rondom Columbus gedink dat die aarde plat is. Die ‘kundiges’ het sy reisplanne ondersoek en gesê dat sy idee onmoontlik was. Columbus het egter nie van die kant van die aarde afgeval soos hulle voorspel het nie – hy het Amerika ontdek!

In dieselfde trant het Thomas Edison vir Henry Ford probeer oortuig om sy idee van ‘n motorkar te laat vaar, omdat hy oortuig was dat dit nie sou werk nie. Hy het vir Ford gesê: ‘Kom werk vir my en doen iets wat die moeite werd is.’ Alhoewel Edison ‘n groot uitvinder was, klink dit asof hy positief was oor wat hy kon doen en negatief was oor wat ander mense kon vermag. Die volgende keer wat jy in jou kar klim om êrens heen te gaan, moet jy bly wees dat Ford nie Edison se negatiewe uitkyk oor karre gehad het nie.

Moenie dat iemand anders se beperkende denke jou beperk nie. Selfs al is jy die enigste positiewe persoon in jou familie, wees die een wat ‘n optimistiese uitkyk in elke situasie het. Wat ons ‘algemene kennis’ noem, is oor die algemeen dikwels verkeerd! ‘Dit is tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig.’

Het die mense wat vir jou sê: ‘Dit kan nie gedoen word nie,’ vir God by die situasie ingereken? Indien hulle nie het nie, moenie daaraan aandag gee nie. In plaas daarvan om na mense te luister wat jou laat twyfel, moet jy na die mense luister aan wie God wysheid, kennis en begrip gegee het.

Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Joh 5:16-30; Ps 5; Spr 24:8-9