Fokus op jou Godgegewe visie

2023-03-13
Handelinge 26:19 NLV

Wanneer God jou ‘n visie gee van wat Hy wil hê jy moet doen, sal jy teen die stroom van die wêreld moet skop. Die samelewing wil jou in ‘n boks hou. Die meeste mense is geestelik aan die status quo getrou. Hulle wil hê wat was, nie wat kan wees nie. Hulle soek veiligheid en eenvoudige antwoorde. Jy moet jouself dus toestemming gee om ‘n ander rigting in te slaan en nuwe grond te ontdek.

Paulus het gesê: ‘…ek [was] nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam… nie.’ Dit was sy verterende passie en die sentrale fokus van sy lewe. Hy het elke oggend opgestaan en daaraan gedink en elke aand met dit in sy gedagtes gaan slaap. Aan die einde van sy lewe, kon hy sê: ‘…ek het die wedloop voltooi… En nou wag die prys vir my: die lourierkrans van geregtigheid…’ (2 Timoteus 4:7-8 NLV). Of jou visie nou is om ‘n groot familie, ‘n groot kerk, ‘n groot besigheid, of ‘n groot ‘enigiets’ op te bou, jy sal daarop moet fokus.

Die skrywer Harry A. Overstreet het opgemerk: ‘Die onvolwasse verstand spring van een ding na die volgende; die volwasse verstand wil graag volhard.’ Verdien elke area van jou lewe gefokusde dinktyd? Nee. Wees selektief in jou denke. Wat het God jou geroep om te doen? Wat is jou rol daarin? Watter vaardighede moet jy opskerp? Watter kennis moet jy opdoen? Watter verhoudings moet jy bou?

Die eerste vraag wat Paulus gevra het toe God vir hom sy visie gegee het, was: ‘…Here, wat wil U hê moet ek doen?..’ (Handelinge 9:6 AFR53). Dis die vraag wat jy ook vandag vir God moet vra.

Sielskos: Eks 39-40; Luk 16:1-18; Ps 135; Spr 7:21-23

Agter wat kruip jy weg?

2023-03-06
1 Samuel 10:22 NLV

Toe Samuel Israel se eerste koning aan die mense wou voorstel, het hulle Saul gekry waar hy ‘agter die mense se reisgoed,’ wegkruip. Die Hebreeuse woord vir reisgoed of bagasie simboliseer die self-opgelegde beperkings wat jou verhinder om die taak wat God jou opgelê het, te doen.

Dinge soos: 1) Gevoelens van ontoereikenheid. Saul se eerste reaksie toe hy gehoor het dat hy tot koning verkies is, was: ‘…Ek is maar net ‘n Benjaminiet, die kleinste stam in Israel. My familie is boonop die geringste…’ (1 Samuel 9:21 NLV). Wanneer jy nie vir God in die vergelyking bring nie, sal jy altyd minderwaardig voel. In plaas daarvan om op jou eie swakhede en onvermoë te fokus, konsentreer eerder op ‘…hoe enorm groot die krag is wat God gebruik in ons wat glo…’ (Efesiërs 1:19 NLV).

2) Vrees oor wat ander mense mag dink. Die skrywer van Spreuke sê vir ons: ‘Jy stel vir jouself ‘n slagyster as jy vir mense bang is…’ (Spreuke 29:25 NLV). Saul het kop-eerste in hierdie slagyster geval! Toe Samuel hom konfronteer oor hoekom hy nie die Amalekiete uitgewis het nie, het hy geantwoord: ‘…want ek was bang vir die manskappe en het aan hulle versoeke toegegee’ (1 Samuel 15:24 NLV).

3) Deur te pragmaties te wees. Die Bybel sê: ‘Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (Jakobus 1:8 NLV). Dit was Saul uitgeknip! Toe hy nie van God gehoor het nie, het hy sake self aangepak en ‘n towenares geraadpleeg. Nadat hy beloof het om Dawid nie seer te maak nie, het hy aanhoudend jag op hom gemaak. Aanpasbaarheid is prysenswaardig, maar God vereis konsekwentheid en toewyding.

Sielskos: Eks 22-24; Luk 13:18-35; Ps 136:1-12; Spr 6:30-31

Kry die regte ingesteldheid (2)

2022-12-04
2 Korintiërs 10:5 NLV

Hoe sal jy jouself beskryf? Is jy van nature positief, of negatief? Word jou besluite deur geloof in God, of deur die vrees vir mislukking, verwerping of tekort gedryf? Voel jy goed oor jouself, of kraak jy jouself af en voel soos ‘n verloorder? Wat jou antwoord ook al mag wees, die volgende is seker: Die patrone en houdings wat jou lewe regeer is nie oornag gevorm nie – so moenie verwag om dit oornag te oorkom nie. Jy kan egter ‘n begin maak deur die volgende Skrifgedeelte te gehoorsaam: ‘Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge…’ (Kolossense 3:2 NLV).

Die Bybel verwys na die Christelike lewe as ‘n wandelpad. ‘…Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het’ (Efesiërs 4:1 AFR83). ‘Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie’ (2 Korintiërs 5:7 AFR53). ‘As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel’ (Galasiërs 5:25 AFR53). ‘…wandel in liefde…’ (Efesiërs 5:2 AFR53). Om te wandel is die stadigste vorm van beweging! God nooi jou nie uit om saam met Hom te vlieg nie, maar om saam met Hom te stap. Sit net een voet voor die ander en hou dag na dag aan loop.

Wanneer is ons die meeste geneig om te gly en te val? 1) Wanneer ons leer loop. 2) Wanneer ons in omstandighede is wat ons nie geskep het nie en waaroor ons geen beheer het nie, soos ys en sneeu. 3) Wanneer ons gedreineer, moeg en swak voel. 4) Wanneer ons agtelosig raak, nie ons oë oophou nie en ophou fokus. Jou uitdaging is tweevoudig: om die regte ingesteldheid te kry en dit dan te onderhou. As jy God getrou soek, sal Hy jou help om beide hierdie dinge suksesvol te doen.

Sielskos: 1 Kon 17:17-24; Mark 5:21-43; Joh 11:1-45

Fokus jou gedagtes op die Here

2022-06-25
Psalm 112:7 NLV

Daar is ‘n groot verskil tussen om van tyd tot tyd aan God te dink en jou gedagtes op Hom te fokus. In ooreenstemming met die sielkundige William James, skryf die navorser Jeffrey Schwartz die volgende: ‘Die noodsaaklike prestasie van die wil is om aan een voorwerp aandag te gee en dit duidelik en sterk voorop in die gedagtes te hou, sodat al die ander – sy mededingers vir aandag en daaropvolgende aksie – verdwyn soos sterlig wat deur die glans van die son oorval word.’

Het jy al ooit ‘n kontaklens op ‘n mat laat val? Jou intense fokus veroorsaak dat jou brein enigiets wat jou aandag daarvan aflei om die verlore lens te vind, onderdruk – die mat se kleur en patroon en koekiekrummels. Jou gedagtes is gefokus. Dis verstommend hoeveel mense hulself as slagoffers van watter gedagtes ook al deur hulle kop hardloop, sien. Dis asof hulle passiewe toeskouers met geen beheer is nie, wat kyk hoe ongewenste gedagtes oor die skerm van hulle bewussyn blaai.

Verstaan die volgende: Daar is tans ‘n stryd aan die gang wat deur Satan geloods word om die soort gedagtes waaraan jy dink, te beheer. Jy kan nie hierdie stryd sonder God se hulp wen nie. Die uiteindelike vryheid – een wat niemand van jou kan wegneem nie – is die vryheid om te besluit by wat jou gedagtes gaan stilstaan. Die Psalmdigter het die ware geseënde mens as volg beskryf: ‘…hy is gerus, hy vertrou op die Here.’ Wanneer jy op God vertrou en jou gedagtes op Hom gefokus is, sal jy bewyse van sy teenwoordigheid oral waar jy kyk, sien. Jy sal dan met sekerheid kan sê: ‘U goedheid en trou vergesel my al die dae van my lewe…’ (Psalm 23:6 NLV). Hou dus jou gedagtes op God gefokus.

Sielskos: Hosea 6-10; Matt 21:18-32; Ps 8; Spr 14:9-12

Monitor jou gedagtes (2)

2022-06-24
1 Korintiërs 2:16 NLV

Daar is ‘n natuurlike ingesteldheid en ‘n geestelike ingesteldheid. Om in oorwinning te lewe, moet jy ‘n geestelike ingesteldheid ontwikkel. ‘Mense wat nog in materiële terme dink, kan nie hierdie waarhede toe-eien wat van die Gees van God kom nie… Hulle kan dit nie verstaan nie, want hierdie dinge moet uit ‘n geestelike perspektief verstaan word… ons is ingestel om soos Christus te dink’ (1 Korintiërs 2:14, 16 NLV).

Soos jy jou lewe in ooreenstemming met God se Woord programmeer en jouself bewustelik daaraan onderwerp om elke dag sy wil te doen, sal Hy sy gedagtes in jou gedagtes plant. Wat ‘n voordeel! Byvoorbeeld: Iemand kritiseer jou en jou gevoelens word seergemaak. In daardie oomblik praat die Here met jou en sê: ‘Ja, jou gevoelens is seergemaak, maar ‘n deel daarvan is net gewonde ydelheid. Ek is lief vir jou ten spyte van al jou gemors. Jou posisie by My is nie in gevaar nie. Die persoon wat jou gekritiseer het, sien dalk ‘n fout raak. Maar dit is beter om nie te hoef voor te gee dat jy perfek is nie. Hier is ‘n kans om te groei. Gebruik dit!’

Selfs al is daar elemente van pyn in hierdie geestelike soort gedagtes, verlam dit jou nie, maar gee jou eerder energie. Dit is waar, dit gee jou grond om op te staan en jy besef dat indien jy jou gedagtes op hulle gefokus kan hou, sal die regte gevoelens en aksies meer geneig wees om daaruit te vloei. Nou begin jy die volgende belofte uitleef: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV).

In plaas daarvan om op jou kritici te fokus, fokus eerder op God, op jou geestelike groei en wat jy uit die ervaring kan leer.

Sielskos: Hosea 1-5; Matt 21:1-17; Ps 144:9-15; Spr 14:5-8