Vertrou God en neem ‘n tree in geloof (1)

2018-10-18
Matteus 25:21 ABA

Nicole Unice, die direkteur van die vrouebediening by Hope Church, sê: ‘Daar is idees wat ek weet voordelig sal wees en tog huiwer ek om te veel te deel of te groot te droom. Wat as dit nie werk nie? Of mense nie daarvan hou nie? Wat as die mense bo my wonder of hulle die regte besluit geneem het om my aan te stel? Een dag het ek op my kantoormuur geskryf: Wat daarvan as dit misluk? Wat begeer jy om te probeer, maar het dit nog nie gedoen nie omdat jy bang is dat jy sal misluk? Watter tegnologie vermy jy? Watter nuwe kennis ignoreer jy omdat jy oud en geroes voel? As jy nie iets op die horison het waarin jy dalk kan misluk nie, is jy besig om as leier te misluk. Tensy jy op innovasie en kreatiwiteit aandring, sal jy aanhou om dieselfde soort mense aan te trek. Wanneer jy met God se werk begin, sal jy grense moet verskuif en dinge moet probeer wat dalk sal misluk.’ John Mason skryf: ‘Moenie bang wees om te misluk nie. As jy nie misluk nie, groei jy nie. Wanneer suksesvolle mense ophou groei en leer, is dit omdat hulle nie meer bereid is om die gevaar van mislukking te loop nie. Ons almal maak foute – veral diegene van ons wat dinge doen. Soos Paulus sê, ‘Aan God kom ons dank toe – Hy wat aan ons die oorwinning… gee deur Jesus Christus ons Here!’ (1 Korintiërs 15:57 NLV). Mislukking is dikwels die eerste stap na sukses. Tensy jy bereid is om ‘n risiko te neem, sal jy nie die kans kry om sukses te behaal nie.’ Vertrou vandag op God en neem ‘n tree in geloof!

Sielskos: Eks 30-32; Joh 4:13-26; Ps 100; Spr 26:27-28

Jou persoonlike voorsiener

2018-06-24
Psalm 23:5 NLV

Toe die Psalmdigter gesê het, ‘Die Here is my herder…’ (vers 1 NLV), het hy bevestig dat hy ‘n baie persoonlike verhouding met God gehad het; een wat uniek was. God het vir elkeen van ons ‘n unieke persoonlikheid, gawes, doelwitte en roeping gegee. Hy wil met jou ‘n verhouding hê wat heeltemal anders is as die verhouding wat Hy met enigiemand anders het. Net soos jou vingerafdrukke uniek is, so is God se interaksie met jou uniek. Jy moet dus leer hoe om sy stem te hoor en te weet wanneer Hy spesifiek met jou praat. Die Psalmdigter gaan voort om te sê, ‘U berei vir my ‘n feesmaal voor…’ Dink so daaroor na. Wanneer jy by ‘n restaurant vir ‘n tafel wag en jou naam is op die waglys, gee die gasvrou soms vir jou ‘n toestel om vas te hou. Wanneer daar vir jou ‘n tafel oopgaan, sal hierdie toestel vibreer of ‘n liggie laat flikker. Intussen is jy seker dat hulle besig is om vir jou ‘n tafel voor te berei en as jy geduldig is, sal die toestel, wanneer die tafel gereed is, begin vibreer en jou laat weet. Kry jy die idee? As jy God se Woord lees en tyd met Hom in gebed spandeer, begin iets in jou gees vibreer en laat dit liggies flikker. Dis God se ‘toestel’ wat jou lei, rig en die omstandighede vir jou voorberei. Paulus skryf, ‘Omdat Christus Jesus dit verdien het, sal my God uit sy ontsaglike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het’ (Filippense 4:19 NLV). Hoeveel van jou persoonlike behoeftes sal God voorsien? Almal van hulle! Hou dus op om jouself so baie te bekommer en plaas jou vertroue in Hom!

Sielskos: Matt 5:5; Num 12:1-15; Ps 37:1-9; Fil 2:5-11

Bewaar God se Woord (3)

2018-06-21
Kolossense 3:16 NLV

Soos jy jou gedagtes met God se Woord vul, sal die Heilige Gees dit gebruik om jou te verander. ‘Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal…’ Hoe doen jy dit? 1) Deur dit te lees. As jy die koerant maar nie die Bybel lees nie, sal jy nie geestelik groei nie. Jy kan nie televisie vir drie of vier ure kyk, dan jou Bybel vir drie of vier minute lees en groei verwag nie. Hoe kan jy sê jy glo die Bybel van begin tot einde, as jy dit nog nie deurgelees het nie? ‘…[Ons moet] dit elke dag lees so lank as wat [ons] lewe…’ (Deuteronomium 17:19 NLV). As jy jou Bybel net vyftien minute elke dag lees, sal jy dit teen die einde van die jaar heeltemal deurgelees het. As jy elke dag net een dertig-minute televisieprogram uitsny, kan jy dit twee keer ‘n jaar deurlees. Daaglikse Bybelstudie hou jou binne die bereik van God se stem. Wil jy geestelik groei? Ontwikkel dan ‘n daaglikse Bybel leesplan en hou daarby. 2) Deur dit te ontvang. In die gelykenis van die saaier praat Jesus van drie onontvanklike houdings: ‘n geslote gees (harde grond), ‘n oppervlakkige gees (vlak grond) en ‘n deurmekaar gees (grond met onkruid) (sien Lukas 8:5-15). Hy gaan dan verder om te sê, ‘Gee aandag aan wat jy hoor…’ (vers 18 NLV). Enige tyd wat jy nie besig is om te leer nie, kyk na jou houding, want God kan selfs deur die verveligste onderwyser met jou praat as jy nederig en ontvanklik daarvoor is. Jakobus sê ‘…aanvaar nederig die woord wat God in julle geplant het. Hierdie woord het die mag om julle te red’ (Jakobus 1:21 NLV). Hierdie is nie net goeie idees nie; dis lewensveranderende beginsels!

Sielskos: Eseg 46-48; Luk 1:57-66; Ps 139:7-12; Spr 15:28-30

Wanneer jy nie kry wat jy wil hê nie (1)

2018-06-16
2 Petrus 3:18 NLV

Die sielkundige Henry Cloud doen baie korporatiewe konsultasies. Soms vra hy vir die bestuurders: ‘Wanneer, in jou besigheids- of universiteitsopleiding, het jy ‘n kursus geneem oor hoe om op ‘n goeie manier te verloor?’ Om te verloor is ‘n onlosmaaklike deel van die lewe. Dit gee ons ‘n onskatbare insig in die ontwikkeling van ons karakter. Wat doen ons wanneer ons deel is van ‘n span wie se besluit teengestaan word? Hoe hanteer ons dit wanneer die bevordering waarvoor ons aansoek gedoen het, na iemand anders toe gaan? Wat doen ons wanneer ons idee, voorstel of uitnodiging om op ‘n afspraak te gaan, verwerp word? Om te lewe is om te verloor. Om egter sleg en onfatsoenlik te verloor, kan dodelik wees. Die president van ‘n organisasie het ‘n agenda vir verandering wat niemand wil aanvaar nie. Hy is egter hardkoppig en wil nie nee aanvaar nie, dus kry hy kwaadwillige instemming. Mense staan hom nie openlik teë nie, maar hulle saboteer sy agenda. Hy verloor hulle respek en hulle lojaliteit. Hy kon dit nie aanvaar om sy agenda te verloor nie; dus het hy eerder dit wat belangriker is, verloor. ‘n Pastoor wil sy kerk verander op maniere wat sy gemeente nie aanstaan nie. Dus preek hy kwaai preke wat hulle kasty omdat hulle nie sy leierskap volg nie. Hy probeer druk op die ouderlinge uitoefen. Hy dreig, hy kla, hy manipuleer. Uiteindelik vra die ouderlinge hom om die kerk te verlaat. Omdat hy nie uit sy verliese kan leer nie, verloor hy alles. Petrus, wat daarvoor bekend was dat hy baie hardkoppig was, het wyser en meer volwasse geword, en ons aangemaan om in genade te groei. Wanneer jy nie kry wat jy wil hê nie – aanvaar dit!

Sielskos: Eseg 34-36; Luk 1:1-10; Ps 80:12-19; Spr 15:15-17

Bid vir die regte woorde

2018-06-14
Kolossense 4:6 NLV

Bid: ‘Here, ek sluit by die psalmdigter Dawid aan en vra: ‘Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees…’ (Psalm 19:15 NLV). Ek besef dat die woorde wat ek spreek geweldige krag het, in beide my eie lewe en in my verhoudings. U Woord sê, ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe…’ (Spreuke 18:21 NLV). Leer my om woorde te spreek wat altyd getrou aan u Woord is en wat U verheerlik. Help my om versigtig te wees om woorde te spreek wat ander mense opbou in plaas van afbreek, wat komplimenteer eerder as kritiseer, wat in liefde en waarheid gespreek word en nie deur my eie verwagtings en begeertes verdraai word nie, en wat vertroue en nie mismoedigheid meebring nie. Waar ek woorde gespreek het wat negatief of skadelik vir iemand anders was, vergewe my. Weerhou my daarvan om dinge te sê wat ander mense op enige manier seermaak of afkraak. Ek wil vriendelik met my woorde wees en ‘n tong hê wat genesing en seën bevorder (sien Spreuke 12:18). Help my om geloof in u Heerskappy oor my lewe te hê dat ek ‘…alles sonder kla of teëpraat’ (Filippense 2:14 NLV) kan doen. Help my om nie negatiewe dinge van myself te sê nie. Help my om onmiddellik op te hou wanneer ek ‘n kritiese woord begin sê. U woord sê, ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee.’ Laat my woorde U vandag eer en verheerlik. In Jesus se naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Mark 15:33-47; Ps 143; Spr 15:8-10