Hou aan leer

2020-04-16
Spreuke 15:14 NLV

Daar word gesê dat ons meer as 80 persent van dit wat ons op skool en universiteit leer, vergeet. Hoekom dan moeite doen? Is opvoeding dan regtig die belegging werd? Dit is. Daar is baie geldige redes om te leer, selfs al vergeet ons baie daarvan. Hier is vyf van die belangrikste redes: 1) Die belangrikste funksie van die leerproses is die selfdissipline en beheer wat dit kweek. Goeie studente leer om aanwysings te volg, opdragte uit te voer en hulle intellektuele kapasiteit tot ‘n konstruktiewe resultaat aan te wend. Dis vaardighede wat jy nodig het om sukses in die lewe te behaal. 2) Selfs al kan jy nie die feite en konsepte oproep nie, weet jy dat dit bestaan en waar om dit te kry. Jy kan dus die informasie vind wanneer jy dit later nodig kry. 3) Ou leringe maak nuwe leerprosesse makliker. Elke intellektuele oefening gee jou meer leidrade wat toekomstige idees en konsepte aan mekaar skakel en jy word deur die leerproses verander. 4) Jou brein is soos die programmering op jou rekenaar. Jy vergeet nie regtig dit wat buite die bereik van jou geheue is nie. Die inligting word steeds in jou brein gestoor en sal weer na vore tree wanneer jou brein behoorlik gestimuleer word. 5) Jy word deur die invloed van die mense wat jou leer, gevorm. Die Bybel sê: “‘n Gelowige smag altyd na nog meer kennis en insig…” (DB). Miskien wens jy dat daar ‘n makliker manier was om die menslike gedagtes te vorm, eerder as die stadige, pynlike ervaring van onderwys. Totdat daar egter ‘n ‘kennispil’ ontwerp word, sal die outydse benadering die ding moet doen.

Sielskos: Lev 18-20; Mark 1:21-34; Ps 43; Spr 10:10

Kyk uit vir oomblikke van onderrig

2019-11-06
Josua 4:21 NLV

Een van die effektiefste manier om iemand te leer, is deur ‘oomblikke van onderrig.’ Jesus het dit gedoen. Toe ‘n vyeboom nie vrugte gedra het nie, het Hy dit vervloek en dit het onmiddellik verdor. Dit het die dissipels se aandag vasgevang (sien Matteus 21:18-22). Toe het Hy verduidelik dat tensy jy met God se Gees vervul bly, jy nie vrugbaar in sy bediening sal wees nie. Hy kon dieselfde les in die sinagoge geleer het. Dan sou sy gehoor egter ‘n vyeboom moes verbeel het en die boodskap sou deur die vermoë van die luisteraar afgewater gewees het. Toe drie dronk hoërskoolleerders met hulle kar in ‘n boom vasgejaag het, het die wrak vir verskeie dae voor hulle skool gestaan. Elke dag moes die leerders daarna kyk. Dit word ‘n ‘hoë impak oomblik van onderrig’ genoem. Hulle sê dat tydsberekening alles is. Dis vir seker waar wanneer dit daarby kom om die belangrike lesse in die lewe te leer, so moet hulle nie misloop nie! As jy ‘n ouer is, is dit tevergeefs om konstant vir jou kinders te ‘preek.’ As jy ‘n leier is, is dit ‘n fout om aanhoudend vir die mense onder jou te probeer lesse leer. Laat die ervarings namens jou praat! Vra dan wat hulle dink en luister sonder om te onderbreek! Mense leer meer deur ontdekking as dialoog. Dis hoekom God vir Josua opdrag gegee het om ‘n monument van twaalf klippe aan die anderkant van die Jordaan te bou, nadat Hy wonderbaarlik die waters geskei het sodat hulle veilig kon deurbeweeg (sien Josua 4:1-9). Hy het in wese gesê: ‘As jou kinders vra waaroor hierdie monument gaan, gebruik dit as ‘n oomblik om hulle oor my liefde en getrouheid te onderrig.’ Hou dus jou oë oop vir die oomblikke van onderrig in die lewe – en gebruik hulle.

Sielskos: 1 Kro 12:23-15:29; Joh 9:1-12; Ps 68; Spr 25:21-22

Hou op uitstel en doen dit!

2018-12-16
Lukas 9:61 NLV

Wanneer jy jou geld vermors of dit verloor, is daar ‘n kans dat jy dit kan terugkry. Jy kan egter nooit vermorste of verlore tyd terugkry nie. Een van die hartseerste verhale in die Skrif word in hierdie woorde gevind: “‘n Ander een het gesê: ‘Ja, Here, ek sal U volg, maar ek wil eers my familie gaan groet.'” Nêrens is dit egter aangeteken dat hy Jesus gevolg het nie. Uitstel en perfeksionisme loop hand aan hand. Ons sê, ‘As ek dit nie reg kan doen nie, doen ek dit eerder glad nie!’ Nee, voor jy dit regkry, sal jy dit heel waarskynlik eers verkeerd doen. In elke suksesverhaal is daar hoofstukke van sukkel, maar hulle is hoofstukke van leer en groei. ‘n Studie is by Yale Universiteit gedoen. Seniors wat op die punt was om hulle graad te behaal, is oor die gevare van tetanus ingelig en is ‘n gratis inenting daarteen by die gesondheidsentrum aangebied. Terwyl die meerderheid van die studente oortuig was dat hulle die inenting nodig gehad het, raai hoeveel het opgevolg en die inenting gaan kry? Drie persent! ‘n Ander groep is dieselfde lesing aangebied, maar hulle het ook ‘n kopie van die kampuskaart gekry waarop die gesondheidsentrum in rooi omsirkel was. Hulle is toe gevra om na hulle weeklikse skedule te kyk en ‘n tyd te bepaal wanneer hulle die inspuiting kon gaan kry. Raai wat? Nege keer meer studente is ingeënt. Goeie bedoelings is nie genoeg nie. Jy moet die oproep maak of die saak aanpak. Jy moet die spertyd bepaal of die afspraak maak. ‘Vandag’ is die môre waarvan jy gister gepraat het. Hou dus op om uit te stel en doen dit!

Sielskos: Heb 11:1-6; Matt 21:18-22; Matt 8:5-13; Mark 6:1-6

Leier, hier is God se manier

2018-11-20
Eksodus 18:23 NLV

Hoekom dring ons daarop aan om alles self te doen? Drie redes: 1) Ons is bang dat ander mense nie die werk so goed soos ons sal doen nie – maar hoe anders sal hulle leer? 2) Ons is bang dat hulle ons sal oorskadu. 3) Ons dink dat God van ons verwag om alles persoonlik te doen. Moses se skoonpa het vir hom gesê ‘Luister nou na goeie raad… Jy moet nog steeds namens die volk met die Here gaan praat… Vir die beslissing oor hulle verskille moet jy mans uit die volk aanstel wat as regters kan optree. Stel een man aan vir elke 1 000 mense of selfs vir elke 100 of 50 of tien mense… Stel hulle as voltydse regters oor die volk aan. Hulle kan die groter sake dan na jou verwys. Die kleiner sake kan hulle sommer self verhoor. So kan julle saam die vrag dra… As dit volgens God se wil is, kan jy die sake van nou af so hanteer. Dit sal jou werk maklik maak. Die volk sal terselfdertyd dan ook meer tevrede gestel kan word’ (Eksodus 18:19-23 NLV). Evalueer dus wat slegs jy kan doen en delegeer wat ander kan doen. As die taak te groot is vir jou, sien dit as ‘n teken dat God vir jou sê, ‘Moenie dit alleen probeer aanpak nie!’ Dit beteken nie dat jy die werk aan sommer net enigiemand kan gee nie. As jy die verkeerde persoon in ‘n werk, wat glad nie vir hulle sin maak nie, aanstel, sal dit rampspoedig wees. Jy moet: 1) die regte mense vind; 2) die regte werk vir hulle gee; 3) hulle vertrou om die regte ding te doen. As jy hierdie drie dinge doen, sal jy lank genoeg lewe om die vrugte van jou sukses te smaak.

Sielskos: Pred 5-8; Joh 11:38-57; Ps 81; Spr 30:11-14

Jou sondepatroon (4)

2018-10-24
Filippense 2:5 NLV

Presteerders: Presteerders is lief daarvoor om struikelblokke te oorkom en voor ander mense op te tree. Ten beste is hulle gemotiveerd om te groei, te strek en te leer. Hulle inspireer mense om aksie te neem en geniet dit om voor skares op te tree. Om ‘n praatjie te gee, gee hulle energie. Sonder ‘n geleentheid om te ontwikkel en te skyn, verloor hulle hulle motivering. Presteerders wil ‘n impak maak, kan in die versoeking kom om vir die beeld wat hulle uitstraal te leef en op die ou einde hulle eie optrede te verafgod. Hulle is geneig om sukses in terme van applous en erkenning te meet. Toe Johannes die Doper van Jesus gesê het, ‘Hy moet in belangrikheid toeneem en ek moet afneem’ (Johannes 3:30 NLV), het hy die tipe oorgawe wat moeilik vir ‘n presteerder is, gedemonstreer. Simon Magus het gedink dat hy ‘n wonderbaarlike bediening soos Petrus s’n kon koop en het Petrus geld aangebied vir die vermoë om aan ander die Heilige Gees te kan gee (sien Handelinge 8:18-22 NLV). Net so kan ‘n ongeredde presteerder iets wat lyk of dit God dien, verander in iets wat homself dien. Vir baie van ons is ‘…die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry…’ (Hebreërs 12:1 NLV), trots. Terwyl presteerders die vermoë het om groot dinge te doen en die lewens van ander te verryk, kan hulle ook op hulle eie beeld en sukses gefokus raak. Wat is die antwoord? Paulus sê: ‘Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van jou medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange. Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees’ (Filippense 2:3-5 NLV).

Sielskos: Jes 4-7; Joh 5:31-47; Ps 5; Spr 27:13-16