Oorwinnaars van reuse (3)

2018-11-18
1 Samuel 17:40 NLV

In Dawid se tyd het hulle deur middel van ‘verteenwoordiging’ geveg. Een man sou die nasie as ‘n geheel beveg en die land van die soldaat wat verloor, sou onderdanig aan die land van die wenner word. Dus was die geveg tussen Dawid en Goliat inderwaarheid ‘n geveg tussen Israel en die Filistyne. Ons is bekend met Dawid se oorwinning oor die reus met geloof, ‘n klippie en ‘n slingervel. Tog sê die Skrif vir ons dat hy nie net een klip opgetel het nie, maar ‘…vyf gladde klippies…’ Hoekom? Dit was nie ‘n gebrek aan geloof nie – hy het geweet dat Goliat vier broers het. Let op: 1) Oorwinnaars van reuse besef dat hulle reus groter kwessies verteenwoordig. ‘n Reus staan nooit alleen nie, agter hom lê sy redes. Verslawing, mishandeling en woede word almal deur ander kwessies voortgedryf en ondersteun. Iewers agter die ooglopende reus is sy ondersteunende broers – pyn, skuldgevoelens, verlies en skaamte. Dawid was voorbereid met vyf klippies – een vir Goliat en een vir elk van sy vier broers. Wat lê agter jou reus? Met God se hulp kan jy beide jou reus en sy ondersteuningspan oorwin. 2) Oorwinnaars van reuse word nie deur die uitdagings oorweldig nie. Moet nooit toelaat dat jou vrese jou geloof oorweldig nie. Die Bybel sê dat ‘…God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Vrees sal op die mislukkings in die verlede voed, maar jy kan nie toelaat dat gister se vrees vandag se geloof oorweldig nie. Neem dus vandag jou mislukkings; maak ‘n lys daarvan op ‘n stuk papier en skryf in groot letters bo-aan die bladsy: ‘Dinge wat ek nie weer hoef te probeer nie! Ek het die les geleer.’

Sielskos: Dan 1:3-21; Dan 3:7-30; Dan 5:10-12; Dan 9:1-19

Sadrag, Mesag en Abednego (2)

2018-06-02
Daniël 3:1 NLV

Dis veilig om te sê dat enigiemand wat ‘n dertig meter hoë standbeeld van homself bou, heel waarskynlik besig is om vir iets anders te kompenseer. Hierdie standbeeld was die toonbeeld van trots. Ons het almal ‘n bietjie Nebukadnesar in ons. Ons sal nou nie ‘n standbeeld vir onsself oprig nie, maar ons raak ontsteld wanneer mense nie voor ons wense buig nie. Ons sal niemand ooit in ‘n oond gooi nie, maar ons raak witwarm van woede wanneer ons nie ons sin kry nie. Ons soek aanbidding op meer subtiele maniere. Ons oordryf op ons CV’s en vertel witleuentjies om die grys areas in ons lewens weg te steek. As jy nie jou identiteit en sekuriteit in dit wat God vir jou aan die kruis bereik het vind nie, sal jy jou onsekerhede agter jou eie skynheiligheid wegsteek. Jy sal jou eie gevegte probeer veg, jou eie geleenthede probeer skep en jou eie reputasie probeer vestig. Twee Skrifgedeeltes definieer koning Saul se val: 1) ‘Saul het daar ‘n altaar vir die Here gebou…’ (1 Samuel 15:12 NLV). 2) ‘…Saul is Karmel toe om ‘n gedenkteken vir homself op te rig…’ (1 Samuel 15:12 NLV). Samuel het egter reg deur die rookskerm gesien: ‘…Voorheen het jy min van jouself gedink, tog het jy die leier van die stamme van Israel geword…’ (1 Samuel 15:17 NLV). Weet jy wie bou gedenktekens vir hulself? Mense wat min van hulself dink! Hoe onsekerder ‘n persoon oor homself is, hoe meer monumente moet hy bou. Daar is ‘n fyn lyn tussen ‘Laat u koninkryk kom’ en ‘Laat my koninkryk kom.’ As jy oor daardie lyn tree, word jou verhouding met God selfdienend. Jy dien Hom nie, jy gebruik Hom. Jy bou nie altare vir God nie; jy bou vir jouself gedenktekens. Dis afgodery.

Sielskos: Amos 1:1-5:17; Mark 13:12-23; Ps 82; Spr 14:5-8

Hou op om ander te blameer en aanvaar verantwoordelikheid (3)

2018-05-13
Filippense 3:13 NLV

Hoe jou verlede ook al mag lyk, God het ‘n beter toekoms vir jou in gedagte. Voor jy egter jouself daarna kan uitstrek, moet jy die mense wat jou seergemaak het, vergewe, jouself vergewe en dit laat gaan. Wanneer jy dit doen, sal jy heel waarskynlik ‘n wye verskeidenheid emosies ervaar. Jy mag dalk woede ervaar en dink dat die lewe onregverdig is en dat dit nie is wat jy in gedagte gehad het nie. Jy het nooit verwag dat jy alleen vir jou lewe verantwoordelikheid moet neem nie. Jy mag dalk angstig voel, bang dat jy dit nie sal kan doen nie – en dat as jy misluk jy net jouself het om te blameer. Jy mag dalk vererg voel omdat jy nou jou lewe in ‘n nuwe lig moet oorweeg, vanuit ‘n ander perspektief. Jy mag dalk selfs hartseer voel oor die manier wat jy ander mense in die verlede blameer het, terwyl jy diep binne in jou geweet het dat jou lewe nie na wense as gevolg van jou eie keuses en besluite vorder nie. Jy mag dalk skaam voel oor die foute in jou verlede en onseker wees of jy regtig persoonlike verantwoordelikheid kan neem en vorentoe kan beweeg. Watter emosies ook al te voorskyn kom, weet net dat dit normaal is wanneer jy ‘n betekenisvolle lewensverandering maak. Erken dit wat jy voel; vra jouself af of jou gedagtes rasioneel is en of dit net ou vrese is wat met jou praat. Hou dan by jou besluit om op te hou om ander te blameer en neem verantwoordelikheid vir jou eie lewe. Die woord vir jou vandag is: ‘…vergeet dit wat agter [jou] lê, en strek [jou] uit na dit wat voorlê.’

Sielskos: Gal 5:22; Luk 19:11-26; Ps 36:5-9; Heb 10:19-23

Belydenis van ‘n geheime sondaar (2)

2017-11-18
Spreuke 28:13 DB

Julie Ann Barnhill gaan voort: ‘Die vader van die leuen (sien Johannes 8:44) wil hê dat ons glo dat daar dinge is wat ons gedoen het wat kan veroorsaak dat God nie meer vir ons lief is nie. By geleentheid het ek al drie van sy gunsteling leuens geglo: Leuen nommer een: Jy is die enigste persoon wat dit al ooit gedoen het. Min dinge kan my op die pad van veroordeling en skuldgevoelens plaas, soos woede. Terwyl ek uiterlik kalm voorgekom het, het ek die verbale en fisiese grense geken waaroor ek agter geslote deure getree het. Ek het dit aan vriende bely, met die hoop dat ek nie die enigste een is nie. Ek is egter met doodse stilte begroet en die vyand het gefluister, ‘Ek het jou gesê niemand anders het al sulke dinge gedoen nie.’ Ek het dit geglo totdat God my teruggetrek het tot die Bybelse waarhede wat ek van kindsbeen af geleer en geglo het. a) As ek my sondes bely, sal Hy my elke keer vergewe. b) As ek Hom toelaat, sal Hy my denkwyses verander en my krag gee om te doen wat reg is. c) Selfs as ek misluk, bly Jesus getrou. Drie jaar later, voor ‘n groot gehoor, het ek vir honderde moeders vertel waar ek was, en hulle verseker dat hulle nie die enigstes was wat al gesê, gedoen of gedink het waaroor hulle tans hulself verwyt het nie. Vrouens het tougestaan om met my daaroor te praat. Ek raak nooit moeg om te hoor dat iemand sê, ‘Dankie dat jy eerlik was!’ nie. Die Here het my gewys dat ek nie die enigste een is wat die dinge doen wat ek gedoen het nie.’ Dit is ware vryheid!

Sielskos: Pred 4-6; Joh 10:11-21; Ps 76; Spr 30:15-17

Geregverdige woede (1)

2017-11-08
Efesiërs 4:26 NLV

Daar is ‘n regte en ‘n verkeerde manier om jou woede te hanteer. Moses het sy woede op die verkeerde manier hanteer en dit het hom die Beloofde Land gekos. Jesus het sy woede op die regte manier hanteer en sodoende diegene wat die armes benadeel het, ontbloot en uit die tempel uit gegooi. Jy moenie net rondloop en oor die probleem kla nie. Jy is veronderstel om iets daaraan te doen. In plaas daarvan dat almal rondom jou op hete kole moet rondloop terwyl jou woede stadig brand, kom by die kern van jou woede uit en druk dit op die regte manier uit. Die pastoor en skrywer, dr Jack Hyles, het geskryf oor sy kind wat ‘n voorgeskrewe boek op skool gekry het – een vol vuil taal en twyfelagtige situasies. Hoe meer dr Hyles die boek ondersoek het, hoe kwater het hy geword. Uiteindelik het hy na die hoof se kantoor gemarsjeer en vriendelik maar ferm gesê, ‘My seun gaan nie hierdie boek lees nie; ‘n ander boek sal aan hom voorgeskryf word om te lees en hy sal nie hiervoor gepenaliseer word nie.’ Die hoof was stomgeslaan en het met dr Hyles probeer stry, ‘Maar…’ Dr Hyles het hom onderbreek en sag maar streng gesê, ‘Geen maars nie. Hy sal nie geforseer word om hierdie boek te lees nie en ‘n ander een sal aan hom voorgeskryf word. Is dit duidelik?’ Die hoof het geantwoord, ‘Nou maar goed, dr Hyles, maar ek verstaan nie waaroor die bohaai gaan nie. Die taal in hierdie boek is nie erger as dit wat op die seunsbadkamer se mure geskryf staan nie.’ Dr Hyles het geglimlag en gesê, ‘Ja, en wanneer dit voorskrewe leeswerk word – sal ek terug wees!’

Sielskos: Jes 58-62; Joh 7:45-53; Ps 115; Spr 29:7-10