2025-01-14
1 Johannes 4:18 NLV
Toe jy klein was en ‘n lelike woord gesê het, mag jou ouers dalk gedreig het om jou mond met seep uit te was. Wel, as vrees ‘n lelike woord is, dan is geloof in God se onvoorwaardelike liefde vir jou soos seep! Te veel mense span die wa voor die perde in. Ons glo dat God ons volgens die graad van ons liefde vir Hom, eerder as die graad van sy liefde vir ons, aanvaar. Die Bybel sê: ‘Laat ons mekaar liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het’ (vers 19 NLV). God se liefde vir jou word nie op jou optrede gebaseer nie, maar op Christus se optrede namens jou. Wanneer jy jou vertroue in Christus plaas, sien God jou van daardie oomblik af as een met Christus (sien 2 Korintiërs 5:17).
Wil jy weet hoe God jou op hierdie oomblik en elke ander oomblik sien? ‘…soos [Jesus] is, is ons ook in hierdie wêreld’ (1 Johannes 4:17 AFR53). Beteken dit ons kan aan God ongehoorsaam wees en daarmee wegkom? Nee! ‘Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is… Elke vorm van tug lyk vir ons op die oomblik meer na ‘n rede vir trane as vir blydskap, maar later sal dit vir hulle wat daardeur gebrei is, die blye oes oplewer van ‘n lewe volgens die wil van God’ (Hebreërs 12:6, 11 NLV).
God se tugtiging is nie verwerping nie! Dis ‘n bewys van sy onvoorwaardelike, onbeperkte, onwankelbare en onverdiende liefde vir jou. God het jou nie meer lief op die dae wat jy oorwinning behaal en minder lief op die dae wat jy oorwonne is nie. Sy liefde vir jou wissel of weifel nie. Die wete van hierdie waarheid sal jou geloof versterk en jou vrese laat afneem!
Sielskos: Jes 45-48; Luk 3:1-10; Ps 79; Spr 2:9-10
2023-03-28
Openbaring 21:4 NLV
Soms beskryf ons die dood as ‘om die Jordaan oor te steek,’ omdat die Jordaanrivier in die Dooie See uitloop. Daar word ‘n verhaal van ‘n bejaarde Christelike dame wat besig was om te sterf, vertel. Vir die meeste van haar lewe was sy aan haar bed of haar rolstoel vasgekluister. Die familie het bymekaargekom om van haar afskeid te neem. Terwyl hy haar hand vashou, het een van haar kleinseuns gevra: ‘Ouma, is Ouma bang om dood te gaan?’ Met trane van vreugde het sy geantwoord: ‘Nee, ek is nie bang vir die dood nie, want my Vader besit aan beide kante van die rivier land.’
Wat ‘n antwoord! In die hemel sal daar nie siekte, depressie, pyn, eensaamheid, vrees, smart of enige van die dinge wat die lewe op aarde so moeilik maak, wees nie. God se Woord sê: ‘Maar die Son van Geregtigheid, met genesing in sy vlerke, sal opkom vir hulle wat eerbied en respek vir My het…’ (Maleagi 4:2 NLV). Jesaja skryf: ‘Dié wat die Here bevry het, sal terugkeer na Sion. Hulle sal sing van blydskap, hulle sal vol vreugde wees, ellende en smart sal verdwyn’ (Jesaja 35:10 NLV).
Wanneer ons ‘n geliefde aan die dood afstaan, wonder ons of ons hulle in die hemel sal sien en sal herken. Ja! Jy sal nie minder in die hemel weet as wat jy op aarde geweet het nie. Paulus skryf: ‘Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ‘n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder duidelik wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan’ (1 Korintiërs 13:12 NLV). Die hemel sal die grootste familiereünie van alle tye wees. Die beste deel daarvan: Ons sal nooit weer van mekaar geskei word nie.
Sielskos: Job 32-34; Luk 21:25-38; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29
2023-03-17
Psalm 51:9 NLV
Onthou jy toe die meeste restaurante vasgestelde ure gehad het? Hulle skedule het bepaal of jy honger moes gaan, al dan nie. Nie meer nie: nou kan jy enige tyd wanneer jy honger raak, by baie van jou gunsteling eetplekke inhardloop. Dis hoe God werk; Hy is 24/7 beskikbaar. Alhoewel gebed nie tot sekere tye beperk word nie, is daar sekere tye wat dit noodsaaklik is om met God te praat. Hier is twee van daardie tye:
1) Wanneer jy gesondig het. Jou emosies van skuld en skande, plus Satan ‘die aanklaer,’ sal jou aansê om God te vermy. Die enigste oplossing vir sonde is egter om na Hom toe te draai. Belas deur owerspel, misleiding en moord, het Dawid besef dat hy sy sonde aan God moet bely. ‘Neem weg my sonde met hisop sodat ek skoon kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees… Skep vir my ‘n rein hart, o God. Gee vir my ‘n nuwe, standvastige gees’ (verse 9, 12 NLV). Johannes het gesê God ‘…is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV). Het jy gesondig? ‘n Nuwe begin is net ‘n gebed weg.
2) Wanneer jy bekommerd en bang is. Jy hoef nie ver te kyk om dinge te kry om oor bekommerd te wees nie. Bekommernisse oor finansies, werk, gesondheid en familie kan jou gestres en angstig maak. Waarnatoe moet jy draai? Gebed is God se antwoord op vrees en angs. ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles… As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV).
Sielskos: Job 1-4; Luk 18:1-17; Ps 11; Spr 8:4-5
2023-03-11
Psalm 23:5 NLV
Dawid het gesê: ‘Wanneer ek loop in ‘n donker vallei, sal ek nie bang wees nie, wat U is naby my. U stok en u staf beskerm en ondersteun my. U berei vir my ‘n feesmaal voor die oë van al my vyande. U verwelkom my as ‘n eregas deur my kop te salf met olie en my beker vol te maak met seëninge’ (verse 4-5 NLV).
God het nie beloof dat jy nie met die dood, of vrees, of die bose, of vyande te doen sal kry nie. Hy het eenvoudig gesê dat ten spyte daarvan, of selfs soms te midde daarvan, jou beker vol seëninge sal wees. Paulus skryf: ‘En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk’ (2 Korintiërs 9:8 NLV). Hy deurweek jou met vreugde en vrede, sodat ‘…julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees’ (Romeine 15:13 NLV). Hy gee jou vreugde in oorvloed, sodat ‘…julle… die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik nie onder woorde [kan] bring nie’ (1 Petrus 1:8 NLV). Hy gee jou oorvloedige vrede – Hy gee ‘…God se vrede… Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink…’ (Filippense 4:7 NLV).
Wanneer jy dus sukkel om met jou salaris uit te kom, of die toekoms vrees, kyk in die spieël en sê: ‘God is my bron; ek het meer as genoeg, my beker is vol seëninge.’ Moet dit ook nie net in tye van nood of krisis doen nie; maak dit ‘n gewoonte wat jy elke dag uitoefen.
Sielskos: Eks 36-38; Luk 15:11-32; Ps 27; Spr 7:10-20
2023-03-05
2 Korintiërs 4:8 DB
Ons gee as gevolg van verskeie redes op: 1) Ons vrees mislukking. Ons het almal dinge in ons verlede wat ons eerder sal wil vergeet. Sit hulle agter jou. Paulus skryf: ‘…ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê’ (Filippense 3:13 NLV).
2) Ons is bekommerd oor wat mense gaan sê. ‘Jy stel vir jouself ‘n slagyster as jy vir mense bang is…’ (Spreuke 29:25 NLV). Hoe jy teenoor kritiek reageer, is een van die belangrikste besluite wat jy ooit sal maak. Daar sal altyd mense wees wat nie van jou hou of jou verstaan nie.
3) Ons luister na die verkeerde stemme. Satan is die Vader van die Leuen en hy sal alles in sy vermoë doen om jou te ontmoedig. Paulus sê: ‘…Daarmee vernietig ons die argumente, asook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word. Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (2 Korintiërs 10:4-5 NLV). As ‘n gedagte van God af kom, aanvaar dit; as dit van Satan af kom, ‘vernietig’ dit.
4) Ons verloor fokus. As gelowiges, lewe ons deur te glo en nie deur te sien nie (sien 2 Korintiërs 5:7). Dit beteken dat jy elke besluit moet maak op grond van wat God sê en nie volgens wat jou natuurlike oë kan sien nie.
5) Ons verloor kontak met ander gelowiges. Toe die apostels uit die tronk gekom het, het hulle ‘…dadelik die ander gelowiges opgesoek…’ (Handelinge 4:23 NLV). Om sterk te bly, het jy gemeenskap met ander Christene nodig. Te veel mense gee op die kruin van sukses op; moenie een van hulle wees nie. Daar is net een graad verskil tussen warm water en stoom – hou dus aan en moenie eers daaraan dink om op te gee nie!
Sielskos: Matt 6:19-34; 1 Kon 8:17-40