2022-12-11
Kolossense 3:12 NLV
Wanneer jy in die oggend opstaan, moet jy jouself nie net fisies nie, maar ook geestelik en emosioneel aantrek. Jy moet vir jouself vra: ‘Watter tipe houding gaan ek vandag dra? Sal ek oorheersend wees of saamwerk? Positief of negatief? Bemoedigend of krities? Selfsugtig of dienend?’ Jy sê: ‘Maar wanneer ek vriendelik is, maak mense misbruik van my.’ Ja, soms sal dit gebeur.
Ten spyte van die risiko’s, is daar egter twee redes om vriendelik te wees: 1) ‘Dit is mos [God se] onverdiende goedheid wat julle gered het toe julle tot geloof gekom het…’ (Efesiërs 2:8 NLV). Genade en vriendelikheid loop altyd hand aan hand! Die digter Robert Burns het gesê dat die vriendelike hart die meeste na God aard.
2) Omdat jy wil hê dat mense vriendelik teenoor jou moet wees en jou goed moet behandel. ‘Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen…’ (Matteus 7:12 NLV). As jy ongeskik is, sal mense ongeskik teenoor jou wees. As jy egter vriendelik is, sal die meeste mense op dieselfde manier reageer. ‘Iemand wat hom beywer vir reg en liefde, ervaar ‘n vol lewe, geregtigheid en eer’ (Spreuke 21:21 NLV).
Hier is nog ‘n rede om vriendelik te wees: “‘n Mens wat vrygewig is, baat self daarby. ‘n Wrede mens vernietig homself” (Spreuke 11:17 NLV). Wanneer jy dus vriendelik teenoor ander mense is, doen jy jouself eintlik ‘n guns. Kom ons lees dit weer: ‘Julle is die mense wat God uitgekies het om Syne te wees en wat Hy liefhet. Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld’ (Kolossense 3:12 NLV).
Gaan dus uit en probeer om een hele dag so te lewe.
Sielskos: Lev 27:30-33; Num 31:48-54; 1 Kor 16:1-3
2022-04-06
2 Timoteus 1:7 DB
Die fondasie van goeie leierskap is selfversekerdheid. Paulus het vir Timoteus gesê: ‘Die Heilige Gees, wat deur God aan ons gegee is, is nie lafhartig nie, maar sterk. Hy maak ons ook sterk, gee vir ons liefde vir ander en help ons om nie verkeerde dinge te doen nie.’ Jy moet met sekerheid weet dat God jou geroep het, toegerus het en jou uiteindelike sukses gewaarborg het. Jy moet dit ook in gedagte hou wanneer ander mense nie meer van jou hou nie, wanneer die fondse opdroog, wanneer moraal afneem en ander mense jou verwerp. As jy onseker voel, sal vrees uiteindelik veroorsaak dat jy jou eie leierskap saboteer.
‘n Selfversekerde leier sien wat tans is, terwyl hulle hulle visie van wat kan wees, handhaaf. Hulle is selde tevrede met die huidige stand van sake. By definisie beteken om ‘te lei’ om voor te loop, nuwe grond te breek, nuwe wêrelde te oorwin en weg van die status quo af te beweeg. Ontevredenheid met die status quo beteken nie dat jy ‘n slegte houding het of kla nie; dit het te make met die gewilligheid om anders te wees en risiko’s te neem. ‘n Persoon wat nie die risiko van verandering wil onderneem nie, is iemand wat nie groei nie.
‘n Leier wat lief is vir die status quo, is een wat gou in ‘n volgeling verander. Baie mense is meer gemaklik daarmee om met ou probleme te sukkel as om nuwe oplossings te vind; risiko lyk vir hulle onveilig. Die geheim lê daarin om ‘n oorwinnende houding te hê – een wat in die versekering van wie jy is en wat jy geroep is om te doen, te vinde is. Dink daaroor!
Sielskos: Lev 8-10; Luk 22:14-23; Ps 50:1-15; Spr 9:10-11
2020-06-30
Matteus 14:29 ABA
Matteus skryf: ‘…Petrus het uit die boot geklim, en toe het hy op die water geloop na Jesus toe.’ Vra jouself vandag drie vrae af: 1) Wat is my boot? Dit is dit wat jou jou grootste sin van sekuriteit gee. Dis waarop jy jou vertroue wil plaas wanneer die lewe stormagtig raak. Om uit te vind wat jou boot is, vra jouself af: ‘Wat is dit wat die meeste vrees in my veroorsaak, veral wanneer ek daaraan dink om dit agter te laat en in geloof uit te tree? 2) Wat weerhou my daarvan om uit my boot te klim? Vrees. Vrees vir mense, vrees vir mislukking, vrees vir kritiek, vrees vir te min. Om te groei, moet jy nuwe gebiede binnegaan en elke keer wanneer jy dit doen, sal jy vrees ervaar. Dit gaan nooit weg nie. Elke keer wat jy egter uit jou boot uitklim, word jy meer in staat om dit volgende keer weer te doen en begin jy besef dat dit nie die mag het om jou te vernietig nie. As Jesus dus vir jou sê: ‘Kom,’ begin loop. Hy sal nie toelaat dat jy verdrink nie. 3) Wat sal ek prysgee as ek in my boot bly? Jou lotsbestemming. Om te bereik wat jy nog nie bereik het nie, moet jy probeer wat jy nog nie probeer het nie. Sal daar risiko’s wees? Ja. Bofbal se beste kolwers misluk twee uit drie keer. Hulle weet egter dat indien hulle nie op die veld is nie, sal hulle nooit die vreugde ervaar om ‘n tuislopie te slaan nie. As jy in jou boot bly, sal jy uiteindelik daarin sterf; en wonder wat jou lewe kon gewees het as jy maar net gewillig was om uit jou boot te klim.
Sielskos: Jer 10-13; Luk 3:21-38; Ps 95; Spr 14:29-33
2019-11-29
Matteus 25:23 NLV
In 1975 het ‘n lae-vlak Hewlett Packard ingenieur genaamd Steve Wozniak, van wie niemand al gehoor het nie, ‘n droom met sy vriend, Steve Jobs, gedeel. Dit het gegaan oor om ‘n verbruikersvriendelike persoonlike rekenaar te bou en dit aan die massas regoor die wêreld te verkoop. Die twee vriende het maande aaneen gewerk om hulle eie kompakte persoonlike rekenaar te skep. Toe hulle dit egter aan Hewlett Packard, een van die wêreld se grootste maatskappye, aangebied het, het die grootkoppe in die maatskappy nie die ontsaglike potensiaal daarvan raakgesien nie en het hulle dit afgekeur. Wozniak en Jobs het toe op hulle eie aangegaan en ‘n klein maatskappy genaamd Apple Computers gestig – en die rekenaarindustrie op sy kop gekeer! Daar is nie ‘n tekort aan mense wat vir jou sal sê: ‘Dit kan nie gedoen word,’ of ‘Dit kan nie werk,’ nie. Sulke mense word ‘droommoordenaars’ genoem – en as jy na hulle luister sal jy tou opgooi nog voor jy begin het. Agter elke groot prestasie sal jy gewone mense met drome, wat gewillig is om die verantwoordelikheid en risiko’s te neem, vind. Hulle is die mense wat die belonings sal geniet! Jesus het een van sy gelykenisse met die volgende woorde geëindig: ‘…Uitstekend! Jy is ‘n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees.’ As jy gewillig is om ten spyte van jou mislukkings, jou stryd en jou beperkinge, die negatiewe kritiek te ignoreer, in geloof uit te tree en die gawes wat God jou gegee het te gebruik, sal Hy seker maak dat jy sukses behaal.
Sielskos: Jos 11-13; Joh 15:5-17; Ps 14; Spr 28:13-16
2018-11-17
Lukas 16:10 NLV
Let op: 1) Oorwinnaars van reuse is nie oorwinnaars van die begin af nie! Dawid was ‘n sagmoedige musikant, ‘n nederige skaapwagter en is oor die hoof gesien. Getrouheid was sy voordeel – getrouheid in sy talent, getrouheid met sy vader se skape, getrouheid aan God. Deur ‘n meester oor die klein dinge te word, het hy ‘n meester oor die groot dinge geword. Getrouheid is ‘n algemene eienskap van ongewone geestelike presteerders. Matteus het as ‘n tollenaar begin; Petrus was ‘n visserman; Elisa was ‘n boer en Jesus was ‘n meubelmaker. Het jy al ooit daaraan gedink dat Jesus meer jare as ‘n meubelmaker as ‘n prediker spandeer het? Hy was in die klein dinge getrou. God het nog nooit ‘n onaktiewe of onproduktiewe persoon geroep nie. Elke kandidaat het met iets begin voor hulle as ‘n oorwinnaar van reuse geroep is. 2) Oorwinnaars van reuse weet dat die beloning altyd groter as die risiko is. Die lewe beloon risiko’s en aksie, maar Satan sal woorde van vrees en angs in jou oor fluister om die beloning te minimaliseer en die risiko te vergroot. Tog bly die waarheid staan dat God mense wat voortdurend soek, beloon (sien Hebreërs 11:6). Jy moet glo dat die belofte groter as die probleem is, dat die doel groter as die teenstand is en dat God groter as jou reus is. Die geloof dat God groter is, is die kern van ‘n geloof wat in die aangesig van vrees aanhou. Vrees is Satan se wapen om jou te verlam; geloof is God se wapen om jou te mobiliseer. Maak dus op God staat, daag die reus uit en word deel van God se geledere van oorwinnaars van reuse.
Sielskos: Rom 15-16; Joh 11:17-27; Ps 8; Spr 30:5-6