2023-03-18
Psalm 77:3 NLV
Hier is twee belangrike gebedsbeginsels: 1) Praat met God te midde van moeilikheid. Dit is die moeilike tye wat jou op jou knieë dwing – ‘n slegte mediese verslag, ‘n kind wat verslaaf is aan dwelms, ‘n verlore werk of ‘n moeilike huwelik. Dis hoekom God moeilike tye toelaat! Hy laat toe dat moeilikheid ons teister – nie om ons ellendig te laat voel nie, maar om ons na Hom toe te bring. Hosea die profeet het gesê: ‘…Sodra hulle moeilikheid het, dán sal julle My soek’ (Hosea 5:15 NLV). God se vaderlike hart wil hê dat ons in Hom bly en Hom vertrou. Hy is lief genoeg vir ons om moeilikheid in ons lewens toe te laat om ons sodoende nader aan Hom te bring. Wanneer ons na Hom in moeilike tye draai, vind ons uit dat Hy ‘…ons toevlug en ons krag [is]; in nood is Hy gereed om te help’ (Psalm 46:2 NLV).
2) Praat ten alle tye met God. In sy bekende boek: The Practice of the Presence of God, verwys broer Lawrence na gebed as ‘n voortdurende gesprek met God – ‘n gebruik vir alle tye, plekke en omstandighede. Gesprekke met God terwyl hy kook of skottelgoed was, het hy net so bevredigend soos in sy toegewese gebedstye gevind. Hy raai ons aan om voortdurend te bid: ‘Sodat ons onsself aan ‘n voortdurende gesprek in eenvoud met Hom gewoond kan maak. Dat ons net hoef te erken dat God intiem by ons teenwoordig is en ons onsself elke oomblik tot Hom moet rig.’ Dit klink soos Paulus se instruksies oor die onderwerp: ‘Doen alles deur gebed en smeking… en bid vir almal wat aan God behoort’ (Efesiërs 6:18 NLV).
Sielskos: Job 5-7; Luk 18:18-43; Ps 19; Spr 8:6-7
2023-03-06
1 Samuel 10:22 NLV
Toe Samuel Israel se eerste koning aan die mense wou voorstel, het hulle Saul gekry waar hy ‘agter die mense se reisgoed,’ wegkruip. Die Hebreeuse woord vir reisgoed of bagasie simboliseer die self-opgelegde beperkings wat jou verhinder om die taak wat God jou opgelê het, te doen.
Dinge soos: 1) Gevoelens van ontoereikenheid. Saul se eerste reaksie toe hy gehoor het dat hy tot koning verkies is, was: ‘…Ek is maar net ‘n Benjaminiet, die kleinste stam in Israel. My familie is boonop die geringste…’ (1 Samuel 9:21 NLV). Wanneer jy nie vir God in die vergelyking bring nie, sal jy altyd minderwaardig voel. In plaas daarvan om op jou eie swakhede en onvermoë te fokus, konsentreer eerder op ‘…hoe enorm groot die krag is wat God gebruik in ons wat glo…’ (Efesiërs 1:19 NLV).
2) Vrees oor wat ander mense mag dink. Die skrywer van Spreuke sê vir ons: ‘Jy stel vir jouself ‘n slagyster as jy vir mense bang is…’ (Spreuke 29:25 NLV). Saul het kop-eerste in hierdie slagyster geval! Toe Samuel hom konfronteer oor hoekom hy nie die Amalekiete uitgewis het nie, het hy geantwoord: ‘…want ek was bang vir die manskappe en het aan hulle versoeke toegegee’ (1 Samuel 15:24 NLV).
3) Deur te pragmaties te wees. Die Bybel sê: ‘Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (Jakobus 1:8 NLV). Dit was Saul uitgeknip! Toe hy nie van God gehoor het nie, het hy sake self aangepak en ‘n towenares geraadpleeg. Nadat hy beloof het om Dawid nie seer te maak nie, het hy aanhoudend jag op hom gemaak. Aanpasbaarheid is prysenswaardig, maar God vereis konsekwentheid en toewyding.
Sielskos: Eks 22-24; Luk 13:18-35; Ps 136:1-12; Spr 6:30-31
2023-01-07
Kolossense 3:16 NLV
Om oor die Skrif te mediteer is een van die grootste sleutels tot geestelike groei. Dawid skryf in Psalm 1: ‘…en sy voorskrifte dag en nag oordink’ (Psalm 1:2 NLV). Die woord ‘meditasie’ beteken egter nie soos ons dit deesdae voorstel nie. Ons dink aan monnike wat tydens sonsopkoms op hulle knieë dreunsing as ons die woord ‘meditasie’ hoor, wat ons in ‘n ander rigting in wil laat hardloop. Ons bewonder sulke mense, maar hoop dat God ons nie roep om so iets te doen nie. Of ons dink dat meditasie ‘n dissipline is wat ure se ononderbroke tyd verg en tyd is een ding waarvan ons nie genoeg het nie. Wat is die gevolg?
Ons lewe besige, maar geestelik onvrugbare lewens. Sommige van ons glo dat meditasie ‘n goeie ding is, maar dat daar te veel ander areas van geestelike groei en karakterontwikkeling is waaraan ons eers moet werk.
Wat is die probleem? Ons verstaan nie wat dit beteken om te mediteer of die ryk voordele wat dit ons sal gee, nie. ‘n Teelepel kitskoffie smaak lekker as jy net die basiese smaak van koffie wil hê. As jy egter meer wil hê – as jy die geur van die koffie in al sy rykheid wil geniet – moet jy dit laat perkoleer. Ons kan dus die Skrif as volg parafraseer: ‘en sy voorskrifte dag en nag laat perkoleer.’ Dis wat Paulus hiermee bedoel het: ‘Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal…’
Geniet vandag die aroma, proe die geur en ervaar die krag.
Sielskos: Jes 17-21; Luk 1:57-66; Ps 42:1-5; Spr 1:20-27
2022-06-15
1 Johannes 1:3-4 NLV
Wanneer blydskap in jou lewe afwesig is, is krag ook afwesig (sien Nehemia 8:10). Ons vreugde moenie op dit wat om ons gebeur gebaseer word nie; dit moet van ons verhouding met Jesus afhanklik wees. Johannes sê: ‘…ons blydskap [kan] tot sy volle verwesenliking… kom’ (1 Johannes 1:4 NLV).
Pastoor Reimar Schultze merk op: ‘Johannes het dit nie gesê toe alles goed gegaan het nie, maar toe alles in duie gestort het.
1) Al sy mede-apostels is vermoor.
2) Rome het die tempel vernietig sodat daar nie een steen op ‘n ander een oorgebly het nie. Flavius Josefus, ‘n ooggetuie, het geskryf: ‘Die menigte wat omgekom het, het al die verwoesting wat mense of God al ooit oor die wêreld gebring het, oortref.’
3) Baie Jode en Christene het vlugtelinge geword. Die gemiddelde lewensverwagting was omtrent veertig jaar en 25 persent van die mense in Rome, was slawe.
4) Johannes het self as veroordeelde misdadiger op die eiland Patmos gebly. Hy het geen aardse gemak gehad nie; geen versekering dat hy nog ‘n dag sou oorleef nie. Toe sy beker van smart vol was, het God hom opdrag gegee om vir die wêreld die absolute mag en triomf van die Christendom oor alles te wys. Johannes se geskrifte, met verwysing na ons daaglikse wandel, sluit alles wat die hemel in die Woord wou openbaar af: as ons deel van die apostoliese gemeenskap is, sal ons blydskap tot sy volle verwesenliking kom.’
Die Psalmdigter het dit die beste gesê: ‘…in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd’ (Psalm 16:11 NLV).
Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Matt 18:1-9; Ps 80:1-11; Spr 13:11-12
2022-05-14
Eksodus 8:10 NLV
Elke plaag wat God op Egipte losgelaat het, het die spot met een van hulle gode gedryf. Byvoorbeeld, die Egiptenare het muggies verafgod, dus het God vir hulle ‘n magdom muggies – en paddas – gestuur. Uiteindelik het die farao vir Moses geroep en gesê: ‘Goed, ek gee op.’ Toe Moses hom egter vra: ‘Wanneer moet ek van die paddas ontslae raak?’ het farao geantwoord: ‘Doen dit môre.’ Hy moes seker mal gewees het? Hoekom sal jy nie dadelik van die paddas ontslae wil raak nie?
Ons doen egter dieselfde, nie waar nie? Ons stel die veranderinge uit wat ons weet vir ons goed sal wees. Miskien is ons te traag om om te gee. Miskien vrees ons die veranderinge omdat ons nie weet wat dit sal behels nie. Miskien is ons net te trots en hardkoppig. Wat die rede ook al is – ons stel uit.
NASA ruimte-ingenieurs sê vir ons dat die meeste brandstof wat deur ‘n vuurpyl verbruik word, in die eerste paar sekondes verbrand word. Dit verg ‘n enorme hoeveelheid energie en krag om die vuurpyl van die lanseerplatform af te beweeg. Wanneer dit eers aan die beweeg en op pad is, benodig dit baie minder brandstof en is dit makliker om te beheer en te stuur.
Dis een ding om te weet dat God jou probleem kan oplos en jou lewe kan verander. Dis ‘n ander saak om jou bewegingloosheid te oorkom en Hom toe te laat om dit nou te doen! Jesus Christus het die mag om vandag veranderinge in jou lewe te maak. Hy sal vir jou die krag gee om te begin en die krag gee om aan te hou. Dis nie te laat nie. Hy kan jou lewe weer herstel. Die woord vir jou is dus – doen dit vandag!
Sielskos: Num 25-26; Matt 9:14-26; Ps 57; Spr 11:14