Die goddelike kuns om te laat gaan

2022-06-17
Hebreërs 11:17 NLV

In Genesis 12, het God vir Abraham gesê om sy land, sy familie en sy sekuriteit te verlaat. Abraham het op die krag van ‘n belofte op ‘n onbekende pad na ‘n onbekende bestemming gereis. Sonder om te aarsel, het die vyf-en-sewentig-jaar oue patriarg ‘…verhuis soos die Here hom beveel het…’ (Genesis 12:4 NLV). Vyf-en-twintig jaar later is Isak gebore; die wonderwerkseun wat God se belofte sou vervul dat Abraham se nageslag: ‘…die draer van seën vir al die nasies op die aarde [sal wees]. Ek sal dit doen omdat Abraham na my geluister het en gehoorsaam was…’ (Genesis 26:4-5 NLV).

Dan maak God ‘n hartverskeurende bevel: ‘Neem jou seun… ja, vir Isak wat jy so liefhet, en gaan na die land Moria. Offer hom daar as brandoffer…’ (Genesis 22:2 NLV). In gehoorsaamheid aan God se Woord, het Abraham: ‘Die volgende oggend… vroeg opgestaan… en ook sy seun Isak geneem om saam te gaan…’ (vers 3 NLV). God se beloofde seën het van Abraham se gewilligheid om dit waarvoor hy die liefste was te laat gaan, afgehang. Dit sou natuurlik en verstaanbaar gewees het indien Abraham besluit het om dit nie te doen nie, maar dit sou die beloofde seën geblokkeer het.

Waaraan klou jy vas wat God se seën in jou lewe blokkeer? Is dit jou kinders, vriendskappe, reputasie, mag, besittings, gemak of gewoontes? Abraham se gewilligheid om Isak te offer was die hoogste daad van geloof. Hoe kon hy dit doen? ‘Hy het daarop gereken dat God sy kind selfs uit die dood sou kon opwek…’ (Hebreërs 11:19 NLV). Abraham het geglo dat met God, beteken om te laat gaan nooit dat jy verloor nie, maar dat jy iets beters terugkry. Jy sal ook!

Sielskos: 2 Kon 10-12; Matt 18:21-35; Ps 73:1-16; Spr 13:17-19

Wees selfversekerd

2022-04-06
2 Timoteus 1:7 DB

Die fondasie van goeie leierskap is selfversekerdheid. Paulus het vir Timoteus gesê: ‘Die Heilige Gees, wat deur God aan ons gegee is, is nie lafhartig nie, maar sterk. Hy maak ons ook sterk, gee vir ons liefde vir ander en help ons om nie verkeerde dinge te doen nie.’ Jy moet met sekerheid weet dat God jou geroep het, toegerus het en jou uiteindelike sukses gewaarborg het. Jy moet dit ook in gedagte hou wanneer ander mense nie meer van jou hou nie, wanneer die fondse opdroog, wanneer moraal afneem en ander mense jou verwerp. As jy onseker voel, sal vrees uiteindelik veroorsaak dat jy jou eie leierskap saboteer.

‘n Selfversekerde leier sien wat tans is, terwyl hulle hulle visie van wat kan wees, handhaaf. Hulle is selde tevrede met die huidige stand van sake. By definisie beteken om ‘te lei’ om voor te loop, nuwe grond te breek, nuwe wêrelde te oorwin en weg van die status quo af te beweeg. Ontevredenheid met die status quo beteken nie dat jy ‘n slegte houding het of kla nie; dit het te make met die gewilligheid om anders te wees en risiko’s te neem. ‘n Persoon wat nie die risiko van verandering wil onderneem nie, is iemand wat nie groei nie.

‘n Leier wat lief is vir die status quo, is een wat gou in ‘n volgeling verander. Baie mense is meer gemaklik daarmee om met ou probleme te sukkel as om nuwe oplossings te vind; risiko lyk vir hulle onveilig. Die geheim lê daarin om ‘n oorwinnende houding te hê – een wat in die versekering van wie jy is en wat jy geroep is om te doen, te vinde is. Dink daaroor!

Sielskos: Lev 8-10; Luk 22:14-23; Ps 50:1-15; Spr 9:10-11

Wat om op jou lewensreis te verwag (4)

2020-10-04
Hebreërs 12:1 NLV

Hier is nog twee dinge wat jy moet weet:

1) Die verkeerde mense sal jou seermaak. Daar is ‘n paar tipes mense waardeur jy nooit beïnvloed moet word nie: mense wat altyd jou hulp en aandag nodig het, negatiewe mense, bitsige mense, dreinerende mense, twyfelende mense en mense wat jou aandag aftrek. Wees lief vir hulle en help hulle op enige manier wat jy kan, maar moet nooit deur hulle beïnvloed of gelei word nie. Moedig hulle aan, maar wanneer hulle begin om jou af te trek eerder as om jou op te hef, moet jy jouself van hulle losmaak en hulle aan God oorgee.

2) Die regte mense sal jou help. Wanneer God ‘n taak het wat gedoen moet word, roep Hy ‘n man of ‘n vrou om dit te doen. Hy roep hulle egter selde alleen. Hy roep ander om hulle by te staan en hulle te ondersteun. Dit beteken dat jou gewilligheid om na hulp uit te reik nie ‘n teken van swakheid is nie, maar van krag. Paulus het ‘n hele hoofstuk in die Nuwe Testament gebruik om erkenning te gee aan die mense wat hom gehelp het om sy visie te vervul. Hy het die volgende vir die mense in Filippi gesê: ‘Elke keer as ek aan julle dink, dank ek God. Ek bid altyd in al my gebede met blydskap vir julle almal omdat julle, van die eerste dag wat julle die Goeie Nuus gehoor het, tot vandag toe saamgewerk het om dit verder uit te dra’ (Filippense 1:3-5 NLV).

As jy wys is, sal jy die dinge wat God jou nie gegee het nie erken, dit aan gekwalifiseerde mense delegeer en met jou kernsterkpunte werk. Dit verg nederigheid van jou, maar in die langtermyn betaal dit goeie dividende!

Sielskos: Est 4:9-5:3; Heb 4:7-16

Dis tyd om volwasse te word

2019-04-07
Hebreërs 6:1 NLV

Paulus skryf: ‘Mag God self, dié God wat vrede bewerk, julle volkome aan Hom toewy. Mag Hy julle heeltemal – gees, siel en liggaam – onberispelik bewaar tot wanneer ons Here Jesus Christus terugkom. Hy wat julle roep, is getrou. Hy sál dit doen!’ (1 Tessalonisense 5:23-24 NLV). Groei jy in geestelike volwassenheid? Voor jy antwoord, lees hierdie woorde: ‘Volwassenheid is die vermoë om jou woede te beheer en jou verskille sonder geweld of verwyte uit te stryk. Volwassenheid is geduld; dis die gewilligheid om korttermyn plesier vir langtermyn wins prys te gee. Dis die vermoë om ten spyte van hewige teenstand of ontmoedigende terugslae te volhard. Dis die kapasiteit om onplesierigheid en frustrasie sonder om te kla of ineen te stort, te hanteer. Volwassenheid is nederigheid. Dis om groot genoeg te wees om te sê: ‘Ek was verkeerd,’ en wanneer jy reg is, nooit te sê: ‘Ek het jou mos gesê,’ nie. Volwassenheid is die vermoë om ‘n besluit te neem en dit enduit deur te voer, in plaas daarvan om eindelose moontlikhede te verken en niks aan een van hulle te doen nie. Volwassenheid beteken betroubaarheid, die hou van jou woord en om deur ‘n krisis te kom. Die onvolwassenes is verward en ongeorganiseerd. Hulle lewens is ‘n doolhof van gebroke beloftes, voormalige vriende, onvoltooide besighed en goeie intensies. Volwassenheid is die kuns om vrede te hê met dit wat jy nie kan verander nie, om die moed te hê om dit te verander wat jy kan en die wysheid om die verskil tussen die twee te ken.’ Die woord vir jou vandag is dus: Dis tyd om geestelik volwasse te word.

Sielskos: 2 Kon 5:1-27; Matt 6:19-34; Hand 5:1-11

“Ek sal gaan! Stuur my!”

2018-04-04
Jesaja 6:8 NLV

Jesaja skryf, “Toe het ek die Here hoor vra: ‘Wie kan Ek met ‘n boodskap na my volk toe stuur? Wie sal vir ons gaan?’ Ek het geantwoord: ‘Here, ek sal gaan! Stuur my!’ Hy het gesê: ‘Ja, gaan…'” (verse 8-9 NLV). In die voorafgaande Skrifgedeelte het Jesaja allerhande verskonings uitgedink en vir God vertel hoekom hy nie vir die werk geskik is nie. In God se koningkryk troef roeping egter elke keer getuigskrifte! Dit gaan nie oor ervaring of kundigheid nie, maar oor beskikbaarheid en die gewilligheid om te leer. As jy gewillig is om te gaan wanneer God jou die groen lig gee, sal Hy jou na ontoeganklike plekke neem en onmoontlike dinge laat doen. Abraham, Jakob, Josef, Ester, Moses, Samuel, Dawid en Jesaja het almal een ding in gemeen gehad, hulle het almal gesê, ‘Hier is ek.’ Is dit nie ironies dat ons soveel tyd en energie spandeer om te probeer uitvind waarheen God wil hê ons moet gaan, wanneer ons eenvoudig net moet sê, ‘Hier is ek’ nie? Dis God se werk om ons te kry waar Hy wil hê ons moet gaan; ons werk is om onsself beskikbaar te stel. Soos ‘n dokter wat op roep is, ‘n polisieman aan diens of ‘n brandweerman wat sy skof werk, is dit ons gereedheid om te reageer wanneer God ons roep, wat belangrik is. Soms is dit ‘n eenvoudige aansporing om ons buurman lief te hê. Soms is dit ‘n roeping om halfpad rondom die wêreld te verhuis. Dit begin egter altyd met ‘n gebed van drie woorde: ‘Hier is ek.’ Dit is wat Moses by die brandende bos gesê het. Dit is wat Kaleb gesê het toe hy uiteindelik die Beloofde Land binnegegaan het. Dit is ook wat God wil hê jy vandag moet sê.

Sielskos: Jer 22-24; Mark 1:1-8; Ps 6; Spr 8:32-33