Probeer ‘n uiltjie knip
2023-03-31Spreuke 3:24 NLV
God het spesifieke snellers in ons liggame ingebou om ons te laat weet wanneer dit tyd is om bewustheid te ontvlug. Wyse mense luister na hierdie leidrade. Van die geskiedenis se bekendste mense wat lief daarvoor was om ‘n uiltjie te knip, sluit Albert Einstein, Thomas Edison en Winston Churchill in.
Daar is ‘n rede hoekom jou ooglede tweeuur die middag begin swaar voel. Jou hefspiere, wat konstant saamgetrek is om jou ooglede oop te hou, begin ingee. ‘n Chemiese stof genaamd adenosien, wat in jou brein afgeskei word wanneer jy wakker is, begin ophoop en laat jou slaperig voel. Gevolglik smag jou liggaam na slaap om die adenosien te laat versprei, wat onmiddellike verligting tot gevolg het.
‘n Studie wat in die Annals of Internal Medicine gepubliseer is, bevestig dat mense wat vir minstens dertig minute, drie keer per week in die middag slaap, ‘n derde minder geneig is om aan hartsiektes te sterf. Bykomende navorsing stel voor dat om ‘n uiltjie te knip, ons kreatiwiteit en geheue kan verbeter. Die kognitiewe neurowetenskaplike, William Fishbein, sê dat ons brein gedurende ‘n middagslapie aanhou werk om probleme op te los en nuwe idees te vorm. Dit help verduidelik hoekom Mozart gesê het dat hy musiek in sy drome komponeer.
Studies het ook al gewys dat ‘n bietjie ekstra slaap met gewigsbeheer kan help! Ghrelien, ‘n hormoon wat in ons ingewandes geproduseer word, sê vir ons dat ons honger is en veroorsaak drange vir lekkers, sout kos en stysels – al die slegte goed! Wanneer ons egter meer slaap, stoor ons dikderm minder ghrelien en ons lus vir gemorskos verminder.
In die Skrif het Jesus nie net self gereelde ruspouses geneem nie; Hy het ook sy dissipels aangemoedig om sy voorbeeld te volg. Probeer dus om ‘n uiltjie te knip.
Sielskos: Job 40-42; Luk 22:39-53; Ps 31:1-13; Spr 8:34-36