Praat mooi van hulle

2017-04-28
Lukas 6:27 NLV

Toe generaal Robert E Lee deur president Jefferson Davis gevra is om sy opinie oor ‘n sekere offisier te gee, het hy ‘n uitstekende verslag geskryf. Een van die offisiere wat die verslag gelees het, was verstom en het vir Lee gevra, ‘Generaal, weet jy dat die man van wie jy so mooi teenoor die president verslag lewer een van jou grootste vyande is, wat nooit ‘n geleentheid laat verbygaan om jou te kritiseer nie?’ Lee het geantwoord, ‘Ja, maar die president het my vir my opinie van hom gevra. Hy het my nie gevra vir sy opinie van my nie.’ Dit vat karakter, medelye en moed om mooi van jou kritici te praat. Wanneer jy dit egter doen, gebeur drie goeie dinge: 1) Jy verhoog jou eie waarde. Jy wys dat jy bo kritiek uitstyg deur lof aan ander toe te ken. 2) Jy ontlont jou vyand se kritiek van jou. Wanneer mense hoor dat jy mooi van ‘n vyand praat, sal hulle meer respek vir jou hê en jou in ‘n ander lig sien. 3) Mense sien jou as regverdig en vrygewig. Dit neem min inspanning om terug lelik te wees, maar ‘n Christelike karakter is nodig om die ander wang te draai en hulle te seën. Jesus het gesê: ‘…Doen goed aan dié wat julle haat. Seën die wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak. As iemand jou op die wang klap, draai ook die ander wang… Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen’ (verse 27-31 NLV). Dis ‘n baie hoë standaard om te volg, een wat Jesus daar gestel het en dwarsdeur sy lewe beoefen het. Hy roep jou vandag om ook daarvolgens te lewe.