Moenie bekommerd wees nie, God is getrou
2021-05-302 Tessalonisense 3:3 NLV
Die meeste van ons bekommernisse kan in twee woorde opgesom word: ‘Wat as?’ Wat as die mediese toetse se uitslae sleg is… wat as die mark ineenstort… wat as my maat my los… wat as ek my werk verloor… die lys is oneindig. ‘…Want vrees sluit straf in…’ (1 Johannes 4:18 AFR53), en deur op jou bekommernisse in plaas van God se getrouheid te fokus, laat jy toe dat Satan jou straf.
Jy hoef dit egter nie te doen nie! Jesus sê vir ons om nie ‘…beangs of ontsteld…’ (Johannes 14:27 NLV), te word nie. Paulus sê: ‘Moenie… die duiwel so ‘n houvas gee nie’ (Efesiërs 4:26-27 NLV). Salomo skryf ook: ‘Vir die bedrukte mens bring elke dag net probleme. Vir die blymoedige mens is die hele lewe ‘n fees’ (Spreuke 15:15 NLV).
As jy bang is vir wat voor jou lê, stop en kyk op God se getrouheid terug. ‘Mag God self, dié God wat vrede bewerk, julle volkome aan Hom toewy. Mag Hy julle heeltemal – gees, siel en liggaam – onberispelik bewaar…’ (1 Tessalonisense 5:23 NLV). As jy dus deur bekommernisse geteister word, kan jy op die volgende beloftes in die Bybel staan. ‘…Loof die Here wat ons… vrede gegee het. Hy het sy beloftes gehou wat Hy lank reeds gemaak het’ (1 Konings 8:56 DB).
Jy sê: ‘Maar ek het God gefaal. Kan ek regtig van Hom verwag om my te help?’ Ja, want: ‘…as ons ontrou is – Hy bly getrou…’ (2 Timoteus 2:13 NLV). Voor God jou verlos het en jou sy kind gemaak het, was Hy van al jou foute, gebreke en mislukkings bewus. Nietemin, sy Woord sê Hy is: ‘…getrou! Hy sal julle sterk maak en van die Bose bewaar.’ Die woord vir jou vandag is dus: Moenie bekommerd wees nie, God is getrou.
Sielskos: Eks 16:1-35; Joh 6:30-40