Leer om jou woede te beheer
2023-03-29Spreuke 19:11 NLV
Jy moet die volgende oor woede weet: Dis nie ‘n sielkundige afwyking nie; almal word kwaad. Dis ook nie noodwendig ‘n sonde nie. Soos ‘n rivier wat vinnig vloei, kan dit konstruktiewe of destruktiewe energie genereer wat negatief gebruik of positief ingespan word. Woede word gewoonlik verkeerdelik verstaan as iets wat deur ander mense of deur omstandighede aan ons gedoen word. Ons sê: ‘Ek kon dit nie help nie; hulle het al my verkeerde knoppies gedruk!’ Dit klink soos Adam in die tuin van Eden: ‘Die vrou het my daarvan laat eet!’
Sedert die sondeval maak ons daarop aanspraak dat ons slagoffers van mense, die duiwel en omstandighede buite ons beheer is – ‘n geloof wat ‘n selfvervullende profesie word, wat veroorsaak dat ons hulpeloos en aan die genade van eksterne magte oorgelewer voel.
Wat sê God se Woord oor ons woede? “‘n Verstandige mens hou homself in bedwang…” Dit beteken dat wanneer verstandige mense kwaad word, hulle hul emosies beheer. Maak nie saak wat die eksterne sneller is nie, die antwoord is altyd ‘n interne reaksie.
‘Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg… selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 NLV). Die sleutel tot selfbeheersing is om deur God se Gees gevul te bly. In plaas daarvan om jou woede aan te blaas deur vir jouself te sê ‘Jy kan nie wegkom daarmee om my so te behandel nie!’ probeer eerder dink: ‘Maak nie saak wat jy doen of sê nie, God se Gees lewe in my en ek het selfbeheersing.’ Die Bybel sê: ‘Die liefdevolle goedheid van God… voed ons op om die goddelose leefstyl en die wêreldse begeertes af te lê en gebalanseerd, met opregtheid en toewyding aan God, in die huidige tyd te leef’ (Titus 2:11-12 NLV).
Leer dus om jou woede te beheer.
Sielskos: Job 35-37; Luk 22:1-23; Ps 69:19-36; Spr 8:30-31