Laat God jou vertroos

2020-03-30
2 Korintiërs 1:3 NLV

Wanneer jy iemand vir wie jy lief is verloor, gaan jy deur ‘n rouproses. God sal jou vertroos en jou daardeur lei. Jesus het gesê: ‘Gelukkig is die treurendes, want God sal self hulle trane afvee’ (Matteus 5:4 NLV). Rou is die gesonde manier om jou emosies te prosesseer, jou pyn uit te druk en daarby verby te beweeg. Herstel gebeur nie oornag nie; dit vind in proporsie met die grootte van jou verlies plaas. Zig Ziglar sê: ‘Die langste twintig uur van my lewe was die ure direk na my dogter se dood. Toe ek haar begrafnisreëlings gemaak het, moes ek na ‘n verkoopsman luister wat nie wou ophou praat nie. Twee keer moes ek die kamer verlaat; ek kon hom eenvoudig nie hanteer nie. Die vorige nag, half aan die slaap en half wakker, het ek aanhou dink dat my dogter besig was om te wonder wanneer haar pappa haar sou kom haal. Die volgende oggend het ek gaan stap en die heeltyd gebid en gehuil. Toe ek tuiskom, het die Here duidelik met my gepraat: ‘Sy is okay. Sy is by my en jy gaan ook okay wees. Ek is al wat jy nodig het. Hou aan stap. Hou aan praat. Hou aan bid. Hou aan huil.’ Hartseer en verlies kan nie opgelos word nie, maar dit is ervarings wat jy nie alleen hoef deur te gaan nie. Die bekendste Psalm in die Skrif sê: ‘Wanneer ek loop in ‘n donker vallei, sal ek nie bang wees nie, want U is naby my…’ (Psalm 23:4 NLV). Die son sal weer skyn. ‘…In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde’ (Psalm 30:6 NLV). Jou vreugde sal weer terugkeer – God beloof dit!

Sielskos: Job 35-37; Matt 26:26-35; Ps 6; Spr 8:32-33