Hou aan volhard
2021-05-31Jakobus 1:3 NLV
Volharding laat jou aanhou wanneer jou vriende jou eenkant toe skuif, mismoedigheid fluister: ‘Gee op,’ en twyfel sê: ‘Dit kan nie gedoen word nie.’ Dis jou anker in die lewe se storms, jou kompas wanneer jy verdwaal en die dryfkrag wat jou by die volgende berg opkry. Jakobus sê: ‘…Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard…’
Volharding ontwikkel jou geloof. Wanneer die proses voltooi is, sal God die toets beëindig, maar nie ‘n oomblik voor dit nie. Intussen is hier drie Skrifgedeeltes waarop jy moet staan: 1) ‘…Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep. Jy is Myne. Wanneer jy deur diep water gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie…’ (Jesaja 43:1-2 NLV).
2) ‘…God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir ‘n uitweg sorg sodat julle kan volhou’ (1 Korintiërs 10:13 NLV).
3) ‘…Ons hou aan om vir God te werk wanneer ons swaarkry, wanneer ons bang is, wanneer ons probleme het, wanneer mense ons slaan, wanneer ons in die tronk is, wanneer mense vir ons probleme gee, wanneer ons hard moet werk, wanneer ons nie kan slaap nie, wanneer ons honger is… Ons hou aan om die werk te doen wanneer mense goeie dinge oor ons sê en wanneer mense slegte dinge oor ons sê, ons hou aan wanneer hulle dink ons is nie belangrik nie en wanneer hulle dink ons is baie belangrik… Dit lyk of ons altyd huil, maar ons is bly… Ons lyk soos mense wat niks het nie, maar ons het alles’ (2 Korintiërs 6:1-10 ABA).
Volhard dus; alles wat jy tans beleef sal dit werd wees aan die einde.
Sielskos: 1 Kon 21-22; Mark 13:1-11; Ps 82; Spr 12:18-19