God sal dit opmaak teenoor jou

2017-04-26
Joël 2:25 NLV

Kristine Steakly skryf: ‘Verlies kan maak dat ons heeltemal alleen en vernietig voel. Vir baie van ons het ons ouers se skeisaak beteken dat ons die huis waarin ons grootgeword het, ons buurt, ons vriende, ons skool en selfs ons kerk moes verlaat, omdat ons skaam was en die oordeel gehoor het van diegene wat eintlik oor ons geestelike welstand bekommerd moes wees. Om Joël se metafoor te gebruik, sprinkane het ons familie, vriendskappe en kerk opgeëet, maar God het egter belowe, ‘…My volk sal nooit weer so in die skande kom nie’ (vers 26 NLV). Ek kan nie vir jou sê hoe herstel gaan lyk of wanneer dit gaan gebeur nie. Sommige van ons sal sien hoe verhoudings tussen gesinslede weer regkom, ander van ons sal sien hoe wonderlike huwelike en liefdevolle families gebou word. Sommige van ons sal moet wag tot ons in die hemel kom, waar alle seerplekke gesond sal word en waar alle trane afgevee sal word.’ ‘n Bybelonderwyser sê: ‘Weerstaan die versoeking om moedeloos te raak. Jy mag dalk voel dat jy jare, geleenthede, finansies en ‘n deel van jouself gemors het. Hoor egter hierdie fantastiese belofte van bevryding: ‘…Ek sal herstel wat julle deur die stropersprinkane… verloor het…’ Niemand op aarde kan dit teenoor jou opmaak nie. Niemand kan daarvoor betaal nie. Niemand kan dinge regmaak en dit regverdig maak nie. Druk en manipulasie sal nie geregtigheid meebring nie. Laat dit dus gaan en laat God toe om jou lewe met nuwe seëninge te vul. As jy vol wrokke en haat is, sal Hy nie plek vir sy nuwe gawes kan kry nie. God sal dit teenoor jou opmaak as jy ‘n verwagtende houding van geloof het en Hom dank dat sy beloftes ook joune is.’