Die wet van entropie

2024-06-30
Spreuke 29:18 NLV

‘n Pastoor skryf: ‘Die tweede wet van termodinamika bevat hierdie fisiese waarheid: As dinge aan hul eie lot oorgelaat word, beweeg alles in die heelal na wanorde en verval. Karre roes en kos word sleg. Dit word ook die wet van entropie genoem. Die enigste manier om entropie te voorkom, is om ‘n eksterne energiebron te gebruik om dit teen te werk. Die tegniese term hiervoor is negentropie. Die yskas is ‘n goeie voorbeeld. Jy prop dit in en dit produseer koue lug wat keer dat kos sleg word. As die yskas van sy energiebron ontkoppel word, sal entropie weer oorneem en die kos sal begin sleg ruik. Is dit nie wat gebeur wanneer ons van God ontkoppel word nie? Ons lewens beweeg na verval en wanorde. Hoe kan ons dus ons entropiese neigings oorkom? Salomo sê: ‘Wanneer ‘n volk nie duidelikheid het oor die wil van God nie, word hulle koersloos…’ As sonde entropie is, dan is dit negentropie om ons energie in ‘n Godgegewe visie te belê.’

Miskien spruit baie kerkprobleme nie uit ‘n oorvloed van sonde nie, maar eerder uit ‘n gebrek aan visie uit? Dit beteken nie dat daar nie sondeprobleme is nie, of dat daardie probleme nie hanteer moet word nie. Daar is egter in te veel gevalle nie genoeg visie om kerke besig te hou nie. Ons visie is nie groot genoeg om al ons energie te eis nie, dus fokus ons op klein probleme om ons besig te hou. Dieselfde geld op persoonlike vlak. As ons ‘n groter visie gehad het van dit wat God in ons en deur ons wou bereik, sou ons probleme minder word, omdat dit deur ‘n saak groter as onsself verteer sou word.

Sielskos: Matt 5:6; Jes 55:1-7; Ps 63:1-5; Joh 4:1-34