2025-07-02
Kolossense 3:13 NLV
Dis onmoontlik om enigiemand ten volle lief te hê en terselfdertyd ‘n wrok teen iemand anders te koester. Jy kan nie totale liefde gee as jou hart verdeeld is nie. ‘n Bitter hart is ‘n verdeelde hart. Jy reageer dalk steeds op jou verlede en koester ‘n wrok teen iemand wat jou seergemaak het. Dit weerhou jou daarvan om jou geliefdes ten volle lief te hê. Dit is egter nie regverdig teenoor hulle nie.
Baie mense het geregverdigde redes vir hul woede. Daar word geskat dat een uit elke drie vroue en een uit elke sewe mans gedurende hul leeftyd mishandel sal word. Jy moet egter die verlede agterlaat om met die hede aan te gaan. Om mense lief te hê, moet jy die deur tot die verlede toemaak. Dit kan egter nie sonder vergifnis gebeur nie! Vergewe dus diegene wat jou seergemaak het – om jou eie onthalwe, nie omdat hulle dit verdien nie. Doen dit sodat jou hart weer heel kan word. Die mense in jou verlede kan jou nie meer seermaak nie, tensy jy hulle toelaat om dit te doen deur ‘n wrok teen hulle te koester.
Wanneer jy ‘n wrok teen iemand het, gee jy hulle ‘n deel van jou hart, ‘n deel van jou aandag en ‘n deel van jou gedagtes. Wil jy dit toelaat? Nie? Neem dan daardie dele van jouself terug deur te vergewe. In plaas daarvan om die seer oor en oor te herleef, laat dit gaan. Jy kan egter nie selektief wees oor wat jy vergewe nie: ‘Ek sal die vergewe, maar ek gaan nie dit vergewe nie.’ Die Bybel sê: ‘…as enigeen ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het’ (vers 13 NLV).
Sielskos: Jer 45-48; Matt 6:9-18; Ps 110; Spr 15:8-9
2025-05-15
Lukas 23:34 NLV
Sommige gemeenskappe in die geskiedenis het diegene wat egbreuk gepleeg het, gestraf deur hulle ‘n groot bloedrooi letter A te laat dra wat hulle in die openbaar as egbrekers geïdentifiseer het. As jy betrap is dat jy gesteel het, het hulle jou ‘n bal en ketting laat rondsleep. Miskien dink jy: ‘Wel, hulle het dit verdien.’ Regtig?
Jesus het gesê as jy bloot wellustig na iemand kyk, het jy reeds in jou hart egbreuk gepleeg (sien Matteus 5:28). Hy het ook verder gesê dat die manier waarop jy ander mense oordeel, dieselfde manier is waarvolgens jy geoordeel sal word (sien Matteus 7:1-2). Let twee dinge op: 1) God sal nie jou sonde net oorsien nie. ‘Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is…’ (Hebreërs 12:6 NLV). 2) Hy sal nie sy rug op jou draai nie. Niks kan ons van God se liefde skei nie (sien Romeine 8:38-39).
Wanneer iemand jou dus seermaak, sê God dat ons hulle moet vergewe en dit dan moet uitwis! Indien ons dit nie doen nie, sal dit aanhou om die manier wat ons dink, optree en praat, te beïnvloed. Dit sal ons ook aan ou, pynlike herinneringe vasgebind hou. Om iemand te vergewe begin deur vir hulle te bid. Jy sê: ‘Maar ek het nodig om te verstaan hoekom hulle dit gedoen het.’ Wyse mense doen dwase dinge, goeie mense doen slegte dinge en misleide mense weet nie wat hulle doen nie. Jesus het vir die mense wat Hom gekruisig het, gebid: ‘Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!’ Eendag mag jy dalk dit wat jou oortreder gemotiveer het, verstaan. Selfs al verstaan jy dit egter nie, moet jy hulle vergewe en dit uitwis.
Sielskos: 1 Kon 1-2; Mark 7:14-23; Ps 88:9b-18; Spr 11:27-29
2025-03-27
Efesiërs 4:32 NLV
In 1982 het John Hinckley Jnr die lewe van president Ronald Reagan probeer neem deur hom met ‘n geweer te skiet. Reagan se dogter, Patti, het later vertel wat sy by haar pa geleer het terwyl hy in die hospitaal was: ‘My pa het gesê hy weet dat sy fisiese genesing direk afhanklik is van sy vermoë om John Hinckley te vergewe. Dit het my gewys dat vergifnis die sleutel tot alles is. Hy het my ‘n voorbeeld van hoe om soos Christus te dink, gegee.’
Soms is die wonde wat ander ons toedien onbedoeld en ander kere is dit doelbewus. In beide gevalle gee die Skrif ons egter ‘n duidelike standaard oor hoe ons moet reageer. Jy moet diegene wat jou seermaak vergewe, ‘soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het.’ Dis ‘n hoë standaard, maar dis een wat genesing vir ons diepste wonde bring.
Soms deel ons vergifnis soos ‘n outomaat uit – meganies en sonder enige gevoelens. Die Bybel sê egter dat twee dinge met ons vergifnis moet gepaardgaan: vriendelikheid, wat deur ons aksies uitgedruk word en omgee, wat deur ons houding uitgedruk word. Hoekom? Omdat dit die manier is hoe God ons vergewe. Deur die Skrif vind ons dat emosies soos vriendelikheid, sagmoedigheid, medelye en deernis – in woorde of deur aksie – aan God toegeskryf word. Ons vind ook voorbeelde daarvan in die lewe van die mense wat God gebruik om sy planne en doelwitte te vervul. Josef was een van hulle, toe hy sy broers wat hom verraai het vergewe het. God roep ons om dieselfde te doen. Hierdie tipe vergifnis is net soveel ‘n daad van die hart as wat dit ‘n daad van die wil is.
Sielskos: 2 Tess 1-3; Luk 20:9-19; Ps 18:30-50; Spr 8:32-33
2025-01-01
Efesiërs 4:32 NLV
As jy die nuwe jaar graag met ‘n skoon bladsy wil begin en ligter deur die lewe wil reis, moet jy die ou wrokke wat jou afrem laat gaan. Philip Yancey beskryf vergifnis as ‘n ‘onnatuurlike aksie.’ Hy sê: ‘Dis ‘n ‘hond-eet-hond’ wêreld, nie ‘n ‘hond-vergewe-hond’ wêreld nie.’ Bitterheid en haat kom van nature voor wanneer jy seergemaak is. Vergifnis is bonatuurlik en verg God se genade, maar onthou, Jesus het gesê: ‘Maar as julle weier om die mense te vergewe, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie’ (Matteus 6:15 NLV).
Dink daaroor – daar is nie een enkele, enkelvoudige rede hoekom God ons sondes ooit moet vergewe nie, en tog is die oortredings waarvoor Hy ons elke dag vergewe, veel erger as enigiets waarvoor ons ouers, eggenote of vriende ons moet vergewe. Die Bybel sê: ‘…Vergewe mekaar soos God julle vergewe het…’
Vergifnis maak die tronk, waar jy beide die gevangene en die tronkbewaarder is, se deure oop. Wrokke isoleer jou nie net van mense wat eens op ‘n tyd jou vriende was nie, maar verkort ook jou lewe deur dodelike ensieme te produseer wat tot ‘n magdom fisiese kwale bydra.
Een man het vir sy berader gesê: ‘Ek wens my broer kon na my troue toe kom, maar ons het in jare nie met mekaar gepraat nie.’ Die berader het gevra: ‘Hoekom so?’ Die man het stilgebly en na ‘n rukkie geantwoord: ‘Dit klink nou belaglik, maar ek kan nie eers onthou nie!’
Dis ‘n wetenskaplike feit dat vergifnis jare by jou lewe toevoeg. Wanneer jy met individue praat wat die tagtig-jaar-kerf verby gesteek het, vind jy as ‘n reël dat hulle in vrede met hulself leef, omdat hulle geleer het om te vergewe en te laat gaan.
Sielskos: Jes 1-3; Luk 1:1-10; Ps 90:1-6; Spr 1:1-4
2024-05-25
Psalm 51:3 NLV
Daar is slegte nuus en daar is goeie nuus. Die slegte nuus is toe Dawid sy sonde probeer wegsteek het, het God dit aan die hele volk blootgelê. Die goeie nuus is dat toe Dawid sy sonde bely het, het God hom vergewe en sy rekord uitgevee. Wat God vir Dawid gedoen het, sal Hy ook vir jou doen. Al wat jy moet doen, is om op jou knieë te gaan en te bid: ‘…Wis tog my sonde uit… Skep vir my ‘n rein hart, o God…’ (verse 3, 12 NLV).
As jy wil weet hoe God op so ‘n gebed reageer, lees wat Hy vir Salomo, Dawid se seun, gesê het: “…Dien My met opregtheid en vroomheid soos jou pa, Dawid, gedoen het, doen alles wat Ek beveel het en voer my bevele en voorskrifte uit. Dan sal Ek jou koningskap oor Israel bevestig soos Ek aan jou pa, Dawid, belowe het: ‘Daar sal altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel wees'” (1 Konings 9:4-5 NLV).
Jy mag dalk vandag voel of jy as gevolg van jou sonde, hoop, verlossing en die geleentheid om bruikbaar vir God te wees, verbeur het. Moet dit nie glo nie! Jy kan herstel word. Jy kan genees word. Jy kan vergewe word. Jy kan jou integriteit terugkry. Jy kan weer heel word. Jy kan sing: ‘There is a fountain filled with blood, drawn from Immanuel’s veins, and sinners plunged beneath that flood, lose all their guilty stains.’
Die woord vir jou vandag is – God sal jou vergewe en herstel. Al wat jy moet doen is om Hom daarvoor te vra.
Sielskos: Rig 12-15; Mark 11:1-11; Ps 97; Spr 13:9-10